Foto Irene-Mari van der Walt
Foto Irene-Mari van der Walt

Elke vrou, elke baba

Sowat 300 000 vroue sterf jaarliks weens swangerskap of ’n bevalling
Wêreldgesondheidsdag word vandag onder die vaandel Gesonde Begin, Hoopvolle Toekoms gevier en fokus op ma's en hul pasgebore babas.
Henriette Lamprecht
Die sterftekoers in Namibië onder vroue wat aan swangerskapverwante oorsake of binne 21 dae ná die einde van hul swangerskap sterf (MMR), het van 450 per 100 000 lewendige geboortes in 2000 tot 215 in 2020 verbeter. Hoewel dit laag in vergelyking met die res van Afrika is, is dit volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) drie keer hoër as die gemiddelde aangemelde MMR vir middelinkomstelande. Vandag se viering van Wêreldgesondheidsdag met die fokus op die verbetering van ma’s en hul pasgebore babas se gesondheid en oorlewing - Gesonde Begin, Hoopvolle Toekoms -, kom daarom in ’n tyd waar die opskorting en vermindering van ’n kritieke lewenslyn en humanitêre hulp aan miljoene oraloor die wêreld, lande soos Namibië dwing om op hul mees kwesbare inwoners te fokus. Volgens die mees onlangse beraminge van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), sterf sowat 300 000 vroue jaarliks weens swangerskap of ‘n bevalling.

Meer as twee miljoen babas sterf in die eerste maand van hul lewe, terwyl sowat twee miljoen stilgebore word. Dit is rofweg een voorkombare sterfte elke sewe sekondes, waarvan die grootste meerderheid in die armste lande van die wêreld asook dié wat konflik ervaar voorkom. Gebaseer op huidige tendense is ’n verbysterende vier uit vyf lande nie meer in pas met die Verenigde Nasies (VN) se globale doelwitte vir die verbetering van die oorlewing van ma’s teen 2030 nie. Huidige beperkinge op finansiering kan die vooruitgangsproses verder belemmer, omdat baie programme kritieke gesondheidsdienste lewer wat net soos belangrike mediese navorsing vertraag is wat fokus op swanger vroue, asook dié wat borsvoed en hul babas.

Volgens die WHO vind die meeste sterftes onder ma’s en hul babas tydens of kort na geboorte plaas. Komplikasies by vroeggebore babas is tans wêreldwyd die grootste oorsaak van sterftes van kinders onder die ouderdom van vyf jaar. Vanjaar se jaarlange fokus op ma’s en hul babas beklemtoon ook die stygende behoefte vir gesondheidstelsels om die verskeie onderliggende gesondheidskwessies dringend te takel wat ’n impak op swanger vroue en hul pasgebore babas het. Dit sluit nie net direkte komplikasies tydens die bevalling in nie, maar ook geestesgesondheid, wanvoeding, voedingstekorte, sowel as ’n toenemende las van nie-oordraagbare siektes in. Sterk klem word ook geplaas op vroue se langtermyn-gesondheid en welstand en sluit wette en beleidsrigtings in soos betaalde kraamverlof en toegang tot noodsaaklike gesinsbeplanningsdienste, wat hul regte en gesondheid beskerm.

“Dit is nie voldoende dat vroue bevallings oorleef nie, hulle moet ook hul lewens in goeie gesondheid kan geniet,” sê dr. Pascale Allotey, direkteur vir seksuele en reproduktiewe gesondheid en navorsing by WHO.

“Vroue en meisies oraloor het toegang tot verskaffers van gesondheidsdienste nodig wat na hul kommer luister en in hul behoeftes voorsien. Dit terwyl hulle verseker vroue kan hul vrugbaarheid beplan, eienaarskap neem van hul toekoms en hul gesondheid beskerm,” sê Allotey.

Ook is dringende pogings nodig om die verwante risiko’s van klimaatsverandering op swanger vroue en pasgebore babas aan te spreek, omdat navorsing ’n verbintenis tussen hoër temperature en premature geboortes, stilgeboortes, hoë bloeddruk en swangerskapsdiabetes sowel as sterftes onder babas toon.

Die Namibiese regering bly intussen daartoe verbind om die huidige MMR te verminder en die teiken van 70 sterftes uit 100 000 lewendige geboortes in 2030 te verminder soos vasgestel deur die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte. Meer as 96% van vroue in die land het ten minste een voorgeboortebesoek, met meer as 87% wat geboorte in ’n gesondheidsinrigting skenk. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer