Mediese afval in buitelug verbrand

Verbrandingsoond word glo gediens
Die afval wat by die Kupferberg-stortingsterrein vernietig is, was glo farmaseuties – hoofsaaklik chemies – en hou 'n relatief lae risiko vir openbare gesondheid in.
Tuyeimo Haidula
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het ontslae van vervalde en beskadigde medisyne ter waarde van ongeveer N$14,8 miljoen by die Kupferberg-stortingsterrein geraak.

Stad Windhoek (CoW) het gesê die proses is onder streng riglyne toegelaat weens die voortdurende instandhouding van die verbrandingsoond.

Die woordvoerder van CoW, Harold Akwenye, het verduidelik hoewel verbranding en die gebruik van ’n outoklaaf die standaardmetodes bly vir die vernietiging van mediese afval, kan roetine-meganiese instandhouding soms die werking van die munisipaliteit se verbrandingsoond ontwrig.

“In sulke gevalle en onder noodomstandighede kan dit gemagtig word om van sekere kategorieë afval by die Kupferberg-stortingsterrein ontslae te raak,” het Akwenye gesê.

Hy het gesê die afval wat onlangs by die terrein vernietig is, was farmaseuties – hoofsaaklik chemies – en hou ’n relatief lae openbare gesondheidsrisiko in, vergeleke met ander soorte mediese afval, soos anatomiese of bloedbesmette materiaal.

Die beheerde vernietiging van medisyne wat verlede week uitgevoer is, is volgens die gesondheidsministerie in ooreenstemming met wetlike en regulatoriese prosedures en deur die ministerie van finansies goedgekeur.

Dit volg nadat video’s op sosialemediaplatforms versprei en met Network Media Hub (NMH) gedeel is, wat die verbranding van mediese produkte wys. Sommige berigte het beweer die waarde van die vernietigde medisyne was N$65 miljoen – ’n bedrag wat ten sterkste deur die uitvoerende direkteur in die gesondheidsministerie, Penda Ithindi, weerlê is.



SOWAT N$14,8 MILJOEN

“Die totale waarde van vervalde of beskadigde medisyne wat goedgekeur is vir wegdoening oor al vier kwartale van die 2024-’25-boekjaar is ongeveer N$14,86 miljoen – nie N$65 miljoen soos beweer word nie,” het Ithindi Dinsdag skriftelik gereageer.

Hy het beklemtoon die vernietigingsproses voldoen streng aan die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe van 2003, wat die korrekte prosedure uiteensit vir die vernietiging van vervalde of beskadigde medikasie – nie storting nie, soos sommige beweer.

Die medisyne wat vernietig is, sluit onder meer insulien-inspuitflessies vir die behandeling van diabetes mellitus in, Warfarin-tablette wat gebruik word om bloedklonte soos diepaarse trombose (DVT) en pulmonale embolisme te behandel en te voorkom, en antiretrovirale-medikasie vir MIV-behandeling.

Ander is deksametasoon-inspuitings vir die vermindering van inflammatoriese toestande wat onder meer die vel, gewrigte en longe aantas, kolostomieprodukte vir stomabestuur en medikasie vir chroniese obstruktiewe longsiekte vir respiratoriese toestande. Ander behels kliniese voorrade en medisyne wat ingespuit word.



COVID-19, CHOLERA

Ithindi het verduidelik sommige medisyne het verval weens veranderinge in kliniese vraag, hersienings in behandelingsriglyne of ’n stadige gebruikstempo.

Hy het ook bygevoeg sommige items is tydens gesondheidsnoodgevalle soos die Covid-19-pandemie en cholera-uitbrekings ontvang en het sedertdien verouderd geraak.

In gevalle waar produkte van voorraadbeskermingswaarborge voorsien is, het die ministerie geen finansiële verlies gely nie, aangesien vervalde voorraad gratis deur verskaffers vervang is.

Volgens Ithindi bly Namibië se medisynevermorsingsyfer binne die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se aanvaarbare drempel van slegs 3% per jaar.

Die verdeling van die vervalde medisyne per kwartaal is soos volg:

- Kwartaal 1: N$4,1 miljoen (0,23% van die jaarlikse begroting);

- Kwartaal 2: N$5 miljoen (0,28%),

- Kwartaal 3: N$4,4 miljoen (0,25%); en

- Kwartaal: 4: N$1,1 miljoen (0,07%).

“Die ministerie gebruik ’n verspreidingstelsel waar gesondheidsgeriewe medisyne aanvra op grond van spesifieke behoeftes.

“Wanneer die vraag daal of riglyne verander, loop sommige items die risiko om te verval,” het Ithindi verduidelik.

Hy het herhaal dat medisyne nie voor hul vervaldatums vernietig kan word nie en daarom word produkte wat jare gelede geskenk is, nou eers vernietig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer