Hartseer pa soek ‘regte storie’

Henriette Lamprecht - Hy het gehoor daar was 'n struweling tussen sy seun en die sekuriteitswag toe sy oudste kind noodlottig getref is. Hy weet nie of dit waar is nie, sê mnr. Awas Murangi, maar hy soek die régte storie.
“Ek wil weet of die sekuriteitswag reg of verkeerd was. Want as hy verkeerd was, wil ek stappe neem.”
Awas het Maandagaand die oproep gekry dat hy en me. Lorainne Makono se enigste kind geskiet is by die skool waar die 18-jarige Ndiriraro (Challo) Makono 'n graad 10-leerling was.
Toe Awas daar kom, was mediese personeel reeds met sy seun besig wat in 'n plas bloed by die ingangshek van die Hoërskool Ella du Plessis gelê het.
“Daar was baie bloed waar hy gelê het, ook in die ambulans.” 'n Groot groep polisiemanne was ook reeds daar.
Mediese personeel het Makono, wat in die kop geskiet was, op die toneel behandel. Daar was geen laaste woorde aan sy seun nie, sê Awas.
“Hy was nie by sy bewussyn nie en ek is weggehou waar hulle hom gehelp het.”
Awas het gehoor daar was nog 'n kind saam met sy seun toe die skietvoorval gebeur het.
“Dié kind was nie op die toneel toe ek daar was nie. Niemand kon toe vir my die regte inligting gee nie.”
Challo se ouers en familie het agter die ambulans aangery wat hom na die Katutura hospitaal vervoer het. Hy is dood 'n halfuur nadat hy opgeneem is.
Awas sê sy oudste was 'n baie stil seun en het nie enige verkeerde ding gedoen as hy by sy pa was nie.
“Hy het nooit na drank geruik as hy by my was nie, maar hy was skelm. 'n Kind doen ander goed by jou as wat hy by vriende doen.”
Challo het by hom grootgeword en gebly. Deur die week was hy in die koshuis, maar naweke was hy by Awas. Challo het ook gereeld by ma Lorainne gaan kuier.
Waar sy seun was, was daar grappies en 'n gelag.
“Hy sou dans sonder musiek of sommer simpel goed doen soos om 'n skoen verkeerd om aan te trek.”
Dan het Challo ook 'n kunsstreep gehad, nes sy pa wat 'n vryskut grafiese kunstenaar is, sê Awas. “Hy was mal oor kuns en het onlangs goed by die skool ook geverf. Hy was 'n kunstenaar nes sy pa.”
Van sy skoolmaats beaam dat Challo die grapjas was, die sokkerspeler wat lief was vir dans, partytjie hou en teken, iemand op wie jy in slegte tye kon staatmaak.
Challo se geliefdes sou gisteraand bymekaar kom om te besluit wanneer en op welke manier hulle van hom sou afskeid neem.

Kategorie: