‘Burgerskapwet is ongrondwetlik’
Estelle de Bruyn - Enige iemand wat in Namibië gebore word, wie se ouers permanente verblyf het of gewoonlik in die land woonagtig is, is geregtig op Namibiese burgerskap.
Só bepaal die Namibiese grondwet. Om die rede is die wysigingswetsontwerp op burgerskap, wat vroeër deur die Nasionale Vergadering (NV) gestoomroller is en nou voor die Nasionale Raad (NR) dien, ongrondwetlik.
Een na die ander het uitgelese regslui Vrydag voor ’n portefeuljekomitee van die NR met stawende regsfeite en praktiese voorbeelde hiervan getuig.
Die direkteur van die Regshulpsentrum (LAC), me. Toni Hancox, het die komitee daarop gewys dat die Grondwet die opperwet in die land is en alle wetgewing en aksies van die regering onderhewig daaraan is. Hierbenewens het Namibië ’n grondwetlike demokrasie gegrond op die skeiding van magte. “Die wetgewende gesag maak die wette, onderhewig aan die Grondwet; die uitvoerende gesag implementeer die wette en die regsbank interpreteer die wette, gegrond op die Grondwet.”
Ingevolge artikel 79 van die Grondwet het die hooggeregshof ook die mandaat om dié wet te interpreteer.
Die voorgestelde wetswysiging spruit uit ’n beslissing deur die hooggeregshof op 23 Junie vanjaar in die sogenaamde De Wilde-saak waarin die hof oor die betekenis van “gewone inwoner” in artikel 4 (1) van die Grondwet moes beslis. Die De Wilde-egpaar is reeds tien jaar in Namibië woonagtig en het geen voorneme om na Nederland terug te keer nie.
Volgens die hooggeregshofuitspraak het die grondwetskrywers met ’n doel ’n onderskeid tussen “gewone inwoner” en “permanente inwoner” getref. Die hof het bevind dat elke sodanige aansoek om by geboorte as Namibiese burger verklaar te word, op meriete beoordeel moes word. Van die riglyne wat deur die hof aan die hand gedoen is, was onder meer om te bepaal of die ouer van die kind normaalweg in Namibië woon en nie net op besoek is nie en of die ouer geen onmiddellike planne het om die land permanent te verlaat nie. Die hof het ook verskil van die regering se standpunt dat ’n persoon wat oor ’n werkpermit beskik en in Namibië woon, nie ’n “gewone inwoner” is nie.
Verskonings hoekom beamptes van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie nie elke individuele aansoek op meriete kan oorweeg om te bepaal of ’n ouer ’n “gewone inwoner” is al dan nie, is ook ongeldig bevind. “Die verantwoordelikheid kan nie net laat vaar word omdat die taak moeilik is nie, veral nie as dit by iets so belangrik soos burgerskap kom nie,” het Hancox gesê.
Adv. Essi Schimming-Chase, wat namens die regsvereniging van Namibië opgetree het, het op die voorwoord van die Grondwet gewys waarin dit duidelik gemaak word dat die regering onderhewig is aan “’n soewereine grondwet en ’n vrye en onafhanklike regsbank”.
“Die mense van Namibië het besluit om die oppergesag van die parlement te verbeur ten gunste van die Grondwet en om die magte van die uitvoerende, wetgewende en onafhanklike regsbank te skei,” het Schimming-Chase gesê.
SHILOH JOLIE-PITT
In vraetyd het sy die voorbeeld genoem van die Namibiese geboortesertifikaaat wat enkele jare gelede aan Shiloh Jolie-Pitt, die dogter van die Hollywood-akteurs Angelina Jolie en Brad Pitt, uitgereik is - ouers wat geen voorneme gehad het om hulle permanent in Namibië te vestig nie.
“Is net beroemde mense geregtig op burgerskap en ander mense nie?” wou Schimming-Chase weet.
Die ombudsman, adv. John Walters, het op sy beurt gesê die Grondwet is ’n bron van beskerming en die bron van alle wetgewing en is verhewe bo enige ander wetgewing. ’n Wetsontwerp kan gevolglik nie die bepalings van die Grondwet omverwerp nie. Nie net beperk die wetsontwerp die regte van die Grondwet nie; dit strek verder en regte word weggeneem.
Nog ’n regsgeleerde, mnr. Norman Tjombe, het op artikel 4 (8) van die Grondwet gewys wat bepaal dat die parlement geen wet mag aanvaar vir die verlies van burgerskap van iemand wat hier gebore is nie.
Hy sê die 1990 wet op burgerskap maak glad nie melding van burgerskap deur geboorte nie, want dit word as vanselfsprekend aanvaar.
Hy het ook die verskoning van die minister van binnelandse sake en immigrasie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, dat indien buitelanders se kinders wat in Namibië gebore word burgerskap kry, hulle eendag tot die parlement verkies kan word en selfs die land se president kan word, van die tafel gevee. Hy het die voorbeeld genoem waar ’n Namibiese burger met ’n buitelander getroud is en hul kinders dus geregtig is op dubbele burgerskap. Indien daardie kind byvoorbeeld in Duitsland grootword en sy of haar hele lewe daar woon, sou so ’n kind ook geregtig wees om vir die parlement verkiesbaar te wees of president te word, al het hy geen belang by Namibië nie. Soos die wet nou daar uitsien, is dit oënskynlik nie ’n probleem nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie