Paralimpiese skouspel is hier
Die Namibiese afrigter Mike Hamukwaya (links) saam met die atlete Johanna Benson, Sem Shimanda (’n gids vir die gesiggestremde hardlopers) en Johannes Nambala kort ná hul verwelkoming vandeesweek by die Paralimpiese atletedorpie in Rio de Janeiro. Die Paralimpiese Spele se openingseremonie word vanaand gehou (23:00 op SS13), met Johanna Benson wat reeds as die land se vlagdraer aangewys is. Benson (dubbele medaljewenner by Londen 2012), Nambala, Lahja Ishitile, Ananias Shikongo en die kragopteller Ruben Soroseb word as die land se voorste medaljekandidate gereken, indien op vorige internasionale vertonings geskat moet word. Die Namibiërs sal egter gretig wees om nuwe hoogtepunte in die komende week te lewer, eerder as om in die verlede te leef. ’n Gewilde gesegde lui dat die Olimpiese Spele ’n vertoonstuk is van wat die menslike liggaam kan regkry, maar dit is by die Paralimpiese Spele waar jy sien waartoe die mens se gees in staat is. Namibië word deur tien atlete met vier gidse verteenwoordig.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie