MCA-Namibië groet vanjaar

Francoise Steynberg - Die Millennium Uitdaagrekening Namibië (MCA-N) het op 16 September 2009 in die land begin opereer en sal op 16 September vanjaar ten einde loop ná sowat U$304,5 miljoen aan projekte in onderwys, landbou en toerisme bestee is.
Volgens die algemene jaarverslag van 2013 was sedert die ontstaan van MCA-N, kontrakte ten bedrae van US$279 387 914 teen die einde van verlede jaar onderteken. Dit beslaan 92% van die totale begroting. Die meeste van die kontrakte is in hul finale fase.
“Namibiese besighede het grootliks uit die kontrakte voordeel getrek met meer as 82% van ons kontrakte wat aan Namibiërs toegeken is,” het die uitvoerende hoof van MCA-N, me. Penny Akwenye, in die voorwoord tot die jaarverslag gesê.
Die drie sektore waarop MCA-N deurgaans gekonsentreer het, is onderwys, landbou en toerisme.

ONDERWYS
Die begroting vir onderwys is U$141,4 miljoen wat onder meer tot die Onderwys en Opleidingverbeteringsprogram (Etsip) bygedra het. Dit behels steun vir nuwe en skeppende metodes van leer, asook verbeterde infrastruktuur met die bou van studie- en hulpbronsentrums in streke.
Die verbetering van die gehalte van algemene onderwys is die eerste projek in 2013 met 23 skole wat in die Oshana-, Omusati- en Ohangwenastreek herstel en opgegradeer is. Die skole is voorsien van bykomende klaskamers, administrasie geboue, wetenskaplaboratoria, toiletgeriewe, rekenaarsentrums, biblioteke en behuising vir onderwysers. Altesaam 47 skole met 24 900 leerlinge sal voordeel uit die projek trek.
Tegniese steun is aan die direktoraat van nasionale eksamens verleen en ’n opleidingslypskool is vir onderwysers aangebied. Die Universiteit van Namibië se onderwyskollege het U$350 537 vir wetenskaptoerusting ontvang.
Beroepsonderwys en vaardigheidsopleiding is die tweede projek vir onderwys met die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) as vennoot. Altesaam U$103 092 is bestee om 1 683 mense op te lei in vaardighede waarvoor ’n hoë aanvraag bestaan. Dit sluit in steenlêers, toergidse, werkers in die gasvryheidsbedryf en mynwese.
Voorts het MCA-N die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) se Tegniese en Beroepsonderwys en Opleidingsprogram met sowat U$80 208 gefinansier. Vier nuwe gemeenskapsvaardighede ontwikkelingsentrums (Cosdecs) is gebou en vyf bestaande sentrums is teen sowat U$14 206 verbeter. Die bou van ’n handvlytsenstrum op Swakopmund teen sowat U$2,2 miljoen is reeds ver gevorder.
Die derde projek behels die toegang en bestuur van handboeke met die minister van onderwys, dr. David Namwandi, wat vandeesweek 908 627 handboeke in ontvangs geneem het. Altesaam 1 703 806 handboeke ter waarde van N$120 miljoen sal by 1 235 skole afgelewer word.
Die vierde projek is drie moderne studiehulpbronsentrums wat teen U$17,5 miljoen op Oshakati, Helao Nafidi en Gobabis opgerig word. Die Oshana streekbiblioteek op Oshakati is een van drie moderne studiehulpbronsentrums.
"Dit is 'n superbiblioteek met 'groen' tegnologie, plek vir 35 000 boeke, 'n rekenaarsentrum en oudiovisuele sentrum," beskryf die woordvoerder van MCA-N, mnr. Ralf Höfelein, die studiehulpbronsentrums.
Die vyfde projek behels verbeterde toegang tot finansiering vir tersiêre onderrig en die sesde projek fokus op spesiale onderwys. MCA-N ondersteun skole met gesig- en gehoorstremde leerlinge met spesiale onderwysmateriaal.

TOERISME
Die doelwit van die projek van U$68,9 miljoen is om Namibië se toerismebedryf te laat groei deur toerismebestuur te verbeter en bewustheid oor die land as ’n toeristebestemming te bevorder.
Die eerste projek is die verbetering van die bestuur en infrastruktuur van Etosha Nasionale Park ten bedrae van sowat N$300 miljoen. Altesaam 98 huise asook 54 huise by die Ombikahek word vir personeel gebou, met ’n kantoorblok en nuwe ingangshek by Galtonhek wat gebou word. Die sooispitseremonie is in April verlede jaar gehou en die projek behoort teen Junie voltooi te wees.
Paaie, heinings, watergate, piekniekplekke, veldtoilette en padtekens vorm deel van die verbeterde infrastruktuur. Voertuie, gewere en wildvangtoerusting is geskenk en ondersteuning is versterk vir die monitor van wildlewe, brandbestuur, die vermindering van mens-dier-konflik en wildstropery.
Die doelwit is 276 800 toeriste vir Etosha Nasionale Park toon ’n styging van 201 425 toeriste wat die park reeds besoek het.
Bemarking is toerisme se tweede projek met die doel om bewustheid te skep van Namibië as ’n internasionale toeristebestemming. Die fokus is op vier tipes toeriste, naamlik ondervindingsoekers, nuuskierige bewaarders, self-uitdagers en buitelug-entoesiaste. Noord-Amerikaanse toeriste word veral deur MCA-N se projek Noord-Amerika Bestemming Bemarking (NADM) gelok.
Een van die suksesverhale van toerisme was die Namibië Toerismeraad se aanlynbemarkingsveldtog, “Go Big Namibia”. Bloggers van vyf markte het hul avontuurstories tydens ’n reis deur Namibië gedeel. Die resultaat was meer as 20 blogs, 300 kwetters op Twitters, 300 000 “likes” op Instagram en 1 700 kommentare op Instagram. Dié veldtog het Namibië uitstekend bemark, veral vóór die Spitsberaad vir Avontuurtoerisme wat in Oktober plaasgevind het. Drie nuwe roetes, naamlik Arid Eden, Omulunga en Four Rivers, is ontwikkel en sal bemark word.
Die derde projek in toerisme is die ontwikkeling van ekotoerisme vir kommunale bewaringsgebiede. Die doel hiervan is om die kapasiteit van bewaringsgebiede te verhoog om die hulpbronne wat aan hulle toevertrou is, te bestuur, terwyl hulle meeding om toeriste te lok om sodoende hul inkomste te verhoog. Die oprigting van ’n lodge deur ‘n gesamentlike onderneming-vennootskap (JVV) het verlede jaar by Sorris-Sorris-bewaringsgebied begin en nog bewaringsgebiede gaan JVV’s met private vennote (nuwe beleggings van U$62 250 miljoen) sluit om ekonomiese voordele uit toeriste te trek wat landelike gebiede besoek.

LANDBOU
Die landbouprojekte se doelwit is die verbetering van landelike huishoudings deur die volhoubare gebruik van hulpbronne soos weiveld, lewendehawe en inheemse natuurlike projekte. Die totale begroting hiervoor is U$51,4 miljoen.
Die eerste projek behels grondtoegang en -bestuur. Meer as 200 vergaderings is by nedersettings gehou waaraan meer as ’n duisend leiers en sekretarisse van tradisionele owerhede vir opleiding in grondbestuur deelgeneem het. Ondersteuning is ook verleen met die formalisering van die registrasie van grondregte.
Die tweede projek val onder die program Gemeenskapsgegronde Lewendehawe en Weiveldbestuur (CBRLM), waar boere leiding oor beter produktiwiteit van hul lewendehawe en weiding kry. ’n Bulskema en gesamentlike weivelde is gevestig, terwyl 85 waterpunte teen U$2,1 miljoen ontwikkel is.
Die derde projek ondersteun lewendehawe vir die vestiging van ’n opspoorstelsel vir lewendehawe en beter bemarking van beeste. Die doelwit is om die noordelike kommunale gebiede deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid siektevry verklaar te kry.
MCA-N het altesaam 1,6 miljoen oorplaatjies en elektroniese toerusting gekoop om in samewerking met die ministerie van landbou, water en bosbou 'n gerekenariseerde dataprogram, NamLITS, in die noordelike dele te vestig. Die program word ingespan vir die opsporing van beeste wat derhalwe veeartsenydienste help om ’n optimale siektevry status te verwerf om toegang tot internasionale markte te kry.
Voorts het MCA-N vyf staatsveeartskantore teen sowat U$10,888 gebou en kwarantynkampe en personeelbehuising by Katima Mulilo en Kapano in die Zambezistreek teen U$443 289 verbeter.
Inheemse, natuurlike produkte is die landbousektor se vierde projek en die doelwit is dat oesters en produseerders van dié produk hul inkomste verhoog. Die handhawing van bestaande markte en skep van nuwe markte is die sleutelfaktor. Altesaam 64 kontrakte is aangegaan en 7 787 boere asook 5 152 produseerders van inheemse natuurlike produkte soos maroela en duiwelsklou het opleiding ontvang.
MCA-N fokus op algehele volhoubaarheid van alle projekaktiwiteite om te verseker dat die voordele na Namibiese gemeenskappe vloei om armoedeverligting deur middel van ekonomiese groei te bereik.

Kategorie: