FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Syfers kopseer vir ECN

Twee maande om stemgeregtigdes te registreer
Met die land se bevolking wat van 2,1 miljoen tot net meer as drie miljoen gestyg het, het die Verkiesingskommissie van Namibië harde klippe om te kou om te verseker alle stemgeregtigde inwoners is geregistreer.
Mathias Haufiku
Mathias Haufiku – Die bekendmaking van die jongste bevolkingsyfers kan volgens ontleders ’n bedekte seën vir die land se verkiesingsliggaam wees met Namibiërs wat gereed maak om later vanjaar na die stembus te gaan.

Namibiërs is onder die twee miljard kiesers in 50 lande wêreldwyd wat hul stemme vanjaar gaan uitbring. Met nuwe sensusdata wat aandui die land se bevolking het van 2,1 miljoen tot net meer as drie miljoen gestyg, het die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) harde klippe om te kou om te verseker alle stemgeregtigde inwoners is geregistreer om op 27 November te stem.

Ekonome het begin om hul stemme te laat hoor oor hoe die nuwe bevolkingstatistieke die werk van die ECN tydens die aanloop na die verkiesings gaan beïnvloed. Dit sluit in die registrasie van nuwe kiesers en kiesers wie se kaarte ouer as 10 jaar is, die druk van stembriewe asook bewusmakingsveldtogte om te verseker geregistreerde kiesers daag by stembusse op.

Die verkiesingsliggaam het homself twee maande gegee om alle stemgeregtigde kiesers te registreer wat tans nie op die stemrol is nie.

Met die wet wat vereis dat die ECN ’n voorlopige kiesersregister voorberei, publiseer en beskikbaar stel 90 dae voor die verkiesingsdatum vir openbare ondersoek en besware, het die kommissie tot 27 Augustus om die registrasieproses te voltooi.

Die totale aantal geregistreerde kiesers het in 2019 op 1 358 468 gestaan. Met die sensusdata wat aandui dat die plaaslike bevolking sedertdien tot meer as drie miljoen gegroei het, word ’n aansienlike toename in die nuwe kieserslys verwag.

Die terugkeer na stembriewe, ten koste van die elektroniese stemmasjiene, sal na verwagting druk op die voorbereiding van die verkiesing verhoog, veral as die land se tydsame verkrygingsproses in ag geneem word.

Die plaaslike ekonoom Rui Tyitende verwag die ECN gaan sy hande vol hê tussen nou en die verkiesingsdatum.

“As jy kyk na die aantal mense wat in 2019 stemgeregtig was, was daar 2,1 miljoen kiesers. Net 800 000 mense het hul stemme uitgebring. Ons kan verwag die syfer gaan styg as burgerlike organisasies en die ECN na vore tree en betrokke raak in die onderrig van kiesers,” het hy gesê.

Sou daar enige tekortkominge in terme van finansiering wees, moet die fokus volgens hom na die sentrale regering verskuif, het hy bygevoeg.

Met verwysing na die demografie van die jeug, sê Tyitende hy verwag dat ’n beduidende gedeelte van jong mense van die stembus sal wegbly.

“Die onus rus op ons as burgerlike organisasies en akademici om hulle te vra waarom hulle wegbly. Onthou my woorde, jong mense sal besluit of Swapo aan bewind bly. Die jeug het baie om te verloor as hulle nie aan hierdie verkiesing deelneem nie.”

Volgens die ECN se tydlyn duur die registrasie van kiesers vanaf 3 Junie tot 1 Augustus.

Nog ’n ekonoom Salomo Hei sê die syfers sal belangrik wees vir die ECN om te besluit hoe om hul hulpbronne vir die registrasieproses sowel as die verkiesings self te versprei.

“Die bevolking het gegroei wat beteken daar gaan ’n groter aanvraag wees vir verkiesingsdienste. Die statistieke sal die ECN help om die aantal verkiesingsbeamptes te bepaal wat ontplooi moet word, die aantal registrasie- en stembusse in spesifieke gebiede asook die vlak van voorspraak wat vereis word om die apatie van kiesers te voorkom,” het hy gesê.

Vanjaar se verkiesing word beskou as die land se belangrikste sedert onafhanklikwording weens die huidige politieke klimaat in die land.

Terwyl Swapo sedert 1990 die oorhand gehad het, is daar nou onsekerheid of die vryheidsbeweging sy oorheersing kan volhou.

Ander sleuteldatums sluit in 14 en 16 Oktober wat die sperdatums is vir onderskeidelik die nominasie van onafhanklike kandidate en politieke partye. Dié in die buiteland wat wil stem, seevarende personeel en lede van die weermag stem op 13 November, terwyl die algemene publiek op 27 November aan die beurt kom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A