Gaping tussen sê en hoor
Sê maar net 30 jaar gelede
Dit is alweer die einde van die kortste maand van die jaar.
Dit is as gevolg van Februarie dat ek al meer verjaardae as my ouer broer gevier het. Hy verjaar 29 Februarie en in sy leeftyd van net minder as 40 jaar het hy slegs sowat nege verjaardae gevier – en dis mooi so!
Hy het in 1992 laas verjaar en ek het vir dié geleentheid spesiaal van Windhoek na die Noorde gereis. Die reis daarheen en terug was bra deurmekaar en vol verleenthede en verwarring. En dit is dan ook dié broer wat my aan ’n ander groot verleentheid herinner – dié wat deur homofone (dis nou daardie woorde wat dieselfde klink, maar totaal verskillende betekenisse het) en idiome veroorsaak kan word.
In 1968 het hy op ’n plaas in die Aranos-omgewing gaan werk. Hoewel hy tevrede was met die werksomstandighede en die maandelikse loon, het hy ’n bitter ondervinding gehad. Hy het vir die eerste keer kennis gemaak met die Afrikaanse taal. Vir die eerste drie maande het net vingertaal hom gered.
Volgens hom het sy werkgewer op ’n dag na die dorp gegaan om inkopies te doen.
Hy het aan my broer gesê: “As ek namiddag terugkom, moet die ‘jaart’ netjies wees”.
Andreas het egter die woord “netjies” as “niks” verstaan. En dit is hier waar alles verkeerd begin loop het.
Hy vat toe mos ’n graaf, ’n byltjie, ’n hark en ’n skoffelpik en begin die erf skoonmaak totdat daar “niks” is in ooreenstemming met die opdrag.
Die werkgewer het die middag teruggekom en tot sy ontsteltenis was daar niks in die erf rondom die opstal oor nie. Selfs die gras en die vrugtebome was uitgegrawe en weggegooi. Die plek was wel netjies . . .
Glimlaggend hardloop Andreas om die hek oop te sluit.
”Andreas, wat het jy nou gemaak?” het die werkgewer gevra.
“Ja, mooi so. . . niks in die jaart,” kom die antwoord.
’n Portugese gesegde lui dat “wanneer die kop nie werk nie, betaal die liggaam daarvoor”. Dit het Andreas daardie dag ondervind!
Trouens, alle groot ontdekkings het hul oorsprong in toeval.
Dit laat my dink aan ’n verhaal van Josef en Angula, twee mans wat ’n lang pad aangedurf en op pad by ’n plaas drinkwater gaan vra het. Toe hulle by die hek uitstap, sê Josef vir Angula in Oshiwambo: “Etelela po omuvelo” (“bring die hek saam”). Nadat Josef sowat 200 meter gestap het, besef hy dat Angula iewers agtergebly het.
Stel toe maar ondersoek in en kry hom by die hek waar hy besig was om die hek van die hekpaal los te maak om dit saam te “bring”! Het glo nie geweet dat “bring die hek saam” net ’n Oshiwambo-idioom is vir “maak die hek agter jou toe” nie.
’n Anonieme persoon het jare gelede dié wysheid kwytgeraak: “As jy ’n spesifieke woord nie verstaan nie, ignoreer dit; die sin sal sin maak selfs sonder dit.”
– 24 Februarie 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie