NIMT
NIMT

Nimt hou glo Desember se salarisse terug

Ontvang aanmaningsbrief van prokureurs
Die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie se werknemers beweer hulle het nog nie hul salarisse vir Desember ontvang nie.
Kristien Kruger,Yandi Du Plessis
Die regsfirma Metcalfe Beukes Attorneys het ’n aanmaningsbrief aan die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) gestuur nadat ongeveer 172 werknemers beweer het hulle het nie hul Desember-salarisse ontvang nie.

Die leerinstelling het tot môre tyd om werknemers hul volle Desember-salarisse, met rente, te betaal – insluitend uitstaande mediesefondsbydraes, uitstaande betalings aan Sanlam vir uittree-annuïteite, en alle aftrekkings.

Luidens die brief, gedateer 17 Januarie, sal die versuim om aan die eise te voldoen daartoe lei dat werknemers weens finansiële beperkings vanaf 23 Januarie nie by die werk sal aanmeld nie “en die vakbonde verdere regstappe namens sy lede teen Nimt sal doen”.

“Nimt word verder daaraan herinner om te verseker dat alle werknemers hul salarisse vir Januarie 2023 op 25 Januarie ontvang.

“Al ons kliënte se regte bly voorbehou, insluitend die reg om te eis vir skade wat aangegaan is as gevolg van Nimt se blatante kontrakbreuk,” lui die brief verder.

Volgens een van die werknemers, wat verkies om anoniem te bly, het die maatskappy vir sommige van sy werknemers ’n 13de tjek en hul volle salaris betaal, terwyl ander glo net hul 13de tjek gekry het.

“Elke werknemer kry gedurende die jaar ’n 13de tjek of bonus – óf op hul verjaardag óf in Desember. Sommige van ons het gekies om dit in Desember te kry en ek het dit ontvang, maar niks anders nie,” het ’n werknemer gesê.

FINANSIËLE BEPERKINGS

Nimt se uitvoerende direkteur, Ralph Bussel, het dié stelling bevestig.

Hy sê sommige werknemers het nie ’n bonus in Desember ontvang nie, aangesien hulle nie daardie opsie gekies het nie.

“Almal het op 22 Desember en deur die jaar geld ontvang. Die meeste van die werknemers het deur die loop van die jaar hul 13de tjek ontvang, wat belastingvry is. Dit is ’n bykomende derde van hul inkomste.

“Die werknemers in bestuursposisies is diegene wat die meeste geraak is. Dit kan die mense wees wat slegs hul bonusse ontvang het. Almal is deeglik bewus dat Nimt finansiële beperkings het; dit is geen geheim nie,” het Bussel vroeër gesê.

Hoewel hy erken het dat die maatskappy onder finansiële beperkings gebuk gaan, ontken hy die bewerings dat die maatskappy bankrot is.

“Daar is dalk nie geld in die bank nie, maar ons werk om geld te kry. Die bankrekeninge kan selfs nul wys, [maar] ons is nie bankrot nie.”

Bussel het ook gesê Nimt is in gesprek met relevante belanghebbendes om te bepaal hoe die instelling uit hierdie finansiële sinkgat gered kan word.

Hy voeg by voorkeur is in Desember aan die laags betalende werknemers gegee om ’n bonus sowel as ’n volle salaris te ontvang.

‘WANBESTUUR’

Sommige Nimt-werknemers het hul kommer oor Bussel se aanstelling geopper en sê hy is nie bekwaam om die instelling en die fondse te bestuur nie.

Bussel het op sy beurt gesê werknemers het hul salarisse ontvang, maar dit verkwis.

“Ons het die werknemers eers op die 22ste, in plaas van 9 Desember, betaal omdat ons dit goedgedink het dat mense hul salarisse so na as moontlik aan betaaldag ontvang,” het hy gesê.

Hoewel Nimt hom in die verlede in soortgelyke finansiële probleme bevind het, sê Bussel dat hierdie beskuldigings dalk genoeg is om die instelling se reputasie te sink.

“Ons is aan die begin van ons nuwe innames. Wie sal hul kinders hierheen stuur as daar nie geld is nie, of as daar bewerings is dat ons bankrot is?” het hy gesê.

“Die probleem is nie wanbestuur van fondse nie, maar ’n gebrek aan fondse. Hoe kan ons fondse wanbestuur wat ons nie het nie?”

Hy het onthul dat Nimt se werknemers in meer as ses jaar nie ’n salarisverhoging ontvang het nie en het gesê die instelling se topprioriteit is om gehalte-opleiding te bied.

“Onder my bewind het die personeelgetal van 232 tot net minder as 200 permanente personeellede gedaal om te verseker dat die finansiële dilemma aangeroer word. Ek het dit nie veroorsaak nie; ek het dit geërf,” het hy gesê.

Nimt se raad van direkteure en bestuur het Maandag met die werknemers se vakbondverteenwoordigers vergader om te help om die bewerings teen hulle op te klaar.

STILTE

Intussen het die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) ook die ministerie van hoër onderwys se stilte en oënskynlike ongeërgtheid te midde van hierdie finansiële stryd aangeroer.

Napwu sê die ministerie se versuim om die vergadering met ander relevante belanghebbendes, by te woon, het ’n gebrek aan sensitiwiteit vir die werkers se lot getoon.

Die ministerie kon nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.

Nog ’n vergadering word vir môre met Nimt, die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF), die ministerie en twee vakbonde beplan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!