TER ILLUSTRASIE, FOTO UNSPLASH
TER ILLUSTRASIE, FOTO UNSPLASH

Heup uitgehak, bekken gebreek tydens kraam

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

’n Jong vrou van Windhoek wie se linkerheup uitgehak en haar bekken gebreek is tydens ’n bevalling in ’n staatshospitaal, beweer van die verpleegsters het haar ook deur die gesig geklap.

Whitney Snyer, toe 19 jaar oud, se baba is ná ’n traumatiese bevalling in die staatshospitaal op Otjiwarongo op 16 Februarie 2019 gebore. Sy is ure later per ambulans na Windhoek vervoer waar haar bekken in ’n operasie van ses ure weer geheg is.

Sy kon vir weke nie beweeg nie en moes hulp ontvang om haar pasgebore baba te versorg.

Snyer se water het op nege maande van haar swangerskap tuis gebreek, waarna sy by die staatshospitaal op Otjiwarongo ingeboek is vir die bevalling.

Volgens haar eedsverklaring was sy aanvanklik goed ontvang en behandel deur personeel, maar het sy teen die aand ernstige pyn begin ervaar. Verpleegsters se reaksie hierop was volgens haar “ongeërg” en het glo gesê hulle is besig om te “ontspan”.

Snyer is glo in die teenwoordigheid van ’n tannie wat haar vergesel het, gedreig. Een het na bewering gesê “jou simple vrou, ek gaan jou klap”, waarna sy Snyer deur die gesig geklap het.

Haar tannie is opdrag gegee om die kamer te verlaat. Snyer het begin kontraksies kry en verpleegsters het glo aan haar gesê om haar bene te beweeg, iets wat sy nie kon doen nie. Sy is glo weer deur die gesig geklap en haar bene is oopgedwing en “na die kante toe beweeg”.

Een van die verpleegsters het volgens die verklaring Snyers se regterhand in haar vagina gedruk, waarna dit vol bloed was. Sy het onmiddellik daarna geboorte geskenk, maar het steeds geweldige pyn ervaar en kon nie haar bene beweeg nie. Drie ure ná die geboorte is ’n dokter teen middernag laat kom om haar bekken onder verdowing te ondersoek.

Die dokter het volgens Snyer bevind daar was “iets verkeerd met haar bekkenbene” en ’n ambulans is gereël om haar vir verdere behandeling Windhoek toe te neem. Die ambulans het ongeveer 04:00 in die hoofstad aangekom. Snyer se tannie het haar vergesel om na haar baba om te sien, met Snyer se bene wat met ’n handdoek vasgebind was. Tydens ’n operasie van ses ure is haar bekkenbene met ’n metaalplaat geheg, waarna sy ses weke in die hospitaal moes deurbring. Sy is met pubiese simfise diastase (pubic symphysis diastases) gediagnoseer wat beteken die skeiding van die bekkengewrigte sonder ’n fraktuur.

Snyer het in dié tyd twee bloedoortappings ontvang en moes gehelp word om haar pasgebore baba te versorg, omdat sy net haar arms kon beweeg.

Snyer sê in haar verklaring sy het daagliks pyn ervaar en moes vir ’n geruime tyd ook volwasse doeke dra. ’n Kateter het herhaaldelike infeksies veroorsaak. ’n Ondersoek het ook later bevind die plaat was steeds in plek, maar een van die skroewe was los.

Die kliniese sielkundige, dr. Joab Mudzanapabwe, het ná konsultasies met Snyer bevind sy ly aan ernstige depressie, angs en post-traumatiese stressindroom weens die traumatiese bevalling en die ernstige besering wat sy tydens die bevalling opgedoen het en met ’n operasie herstel moes word. Snyer het ondermeer tydens sessies gesê sy kon net op een sy in die hospitaal lê, sy het waardeloos gevoel omdat sy nie haar baba kon versorg nie en het getwyfel of sy ooit weer sal kan loop. Sy ervaar ook steeds konstante pyn en kan nie vir ’n lang tyd sit of staan nie. Met haar ontslag uit die hospitaal is sy aanbeveel om nie binne die volgende vyf jaar swanger te raak nie, weens ’n hoë risiko van mediese komplikasies, terwyl sy ook nie weer normaal geboorte sal kan skenk nie.

Snyer se ma het aan Mudzanapabwe bevestig haar dogter het ná afloop van die bevalling geweldige pyn ervaar en kon nie haar lyf buiten haar arms en kop beweeg nie. Haar dogter was volgens haar ook depressief, met haar gesondheid wat daadwerklik tydens veral reëntoestande agteruitgaan. Snyer se ma is ook van mening dat haar dogter nie weer sal kan kinders hê nie.

Snyer eis N$1,5 miljoen in skadevergoeding van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!