Regter Kobus Miller het gister uitspraak gelewer. Foto Argief
Regter Kobus Miller het gister uitspraak gelewer. Foto Argief

Dogter seëvier in boedel-saak

‘Meester van die hoërhof was nalatig’
Die hof het bevind dat die ministerie van justisie en die man wat die boedel vir persoonlike verryking misbruik het, die oorledene se dogter meer as N$1,2 miljoen moet betaal.
Kristien Kruger
’n Jong vrou wat vir sewe jaar in ’n regstryd gewikkel was om haar ma se boedel, waarvan sy die erfgenaam is, gaan uiteindelik die meer as N$1,2 miljoen ontvang.

Die hof het gister in me. Maruzaan Moller se guns beslis en gesê die man wat die boedel deur persoonlike verryking uitgeput het, mnr. Mervin Gay Veuanisa Kozonguisi, tesame met die ministerie van justisie, moet die geld aan haar terugbetaal.

Regter Kobus Miller het bevind dat die meester van die hoërhof en sy amptenare nalatig was en die boedel het as gevolg daarvan ’n verlies gely.

Die wet stipuleer dat die meester én die staat nie beide aanspreeklik gehou kan word nie en daarom is die uitspraak slegs teen die ministerie van justisie.

“Dit is duidelik dat die eerste verweerder [meester van die hoërhof] of die amptenare nie ’n benul gehad het van die bates wat ingevorder is, die bates wat intussen uitgedeel is en die bates wat in die boedel agtergebly het om later verdeel te word nie.

“Ten spyte daarvan is die derde verweerder [Kozonguisi] nooit gevra om verantwoording te doen vir die vermindering van bates nie. As dit gedoen is, sou die feit dat sekere bates wanbestee is, aan die lig gekom het,” lui Miller se uitspraak.

Moller het in haar eisbesonderhede ook aangevoer dat die meester moes besef het dat Kozonguisi nie ’n geskikte eksekuteur vir die boedel was nie.

Ingevolge die hofbevel moet die ministerie en Kozonguisi N$1 275 357 aan Moller betaal asook ’n jaarlikse rente van 20% op dié bedrag, wat bereken sal word vanaf die datum van uitspraak tot finale betaling.

Die partye moet ook Moller se regskoste betaal.

AGTERGROND

Moller se ma, mnr. Yolandi Beukes, is op 8 Febraurie 2015 oorlede.

Nakamhela Attorneys, ’n regsfirma wat die familie verteenwoordig het, het op 5 Maart 2015 die boedel by die meester van die hoërhof aangemeld.

Die familie het voorgestel dat die oorledene se voormalige eggenoot, mnr. Raymond Beukes, as eksekuteur aangestel word.

Die meester van die hoërhof het bevind dat Beukes nie geskik was nie, aangesien hy en die oorledene geskei was ten tyde van haar afsterwe.

Die meester van die hoërhof het gevolglik sekuriteit van N$2 055 000 vereis. Dit was volgens die inventaris die geskatte waarde van die boedel toe die boedel die eerste keer aangemeld is.

Beukes was nie in staat om die sekuriteit te bied nie.

Nakamhela Attorneys het in ’n brief aan die meester voorgestel dat die aanstelling van ’n eksekuteur tot 9 November 2015 uitgestel word, aangesien Moller op dié datum 21 sou word en sy die erfgenaam van die boedel is.

Moller se prokureurs het die meester op 26 November 2015 in kennis gestel dat Moller mondig geword het en as eksekuteur aangewys kan word.

Die meester het Nakamhela Attorneys laat weet dat ’n eksekuteur reeds op 18 November 2015 aangestel is.

Nakamhela het gesê die erfgenaam en familie van die oorledene is nie oor Kozonguisi se aanstelling geraadpleeg of ingelig nie.

Kozonguisi het voor sy aanstelling as eksekuteur sekuriteit van N$2 miljoen vir die bereddering van die boedel verskaf.

Ná sy aanstelling het die Kozonguisi ’n bankrekening in die naam van die boedel oopgemaak en ’n groot gedeelte van die boedel, wat uit effektetrusts ter waarde van N$1 274 557 bestaan het, in dié rekening oorgeplaas.

Minder as ’n maand ná sy aanstelling, het hy N$1 miljoen uit die boedel se rekening in sy persoonlike rekening inbetaal. Die boedelrekening was teen Maart 2016 uitgeput.

Die meester van die hoërhof het op 22 September 2016 die sekuriteit van N$2 miljoen na nul verminder.

“Uit die bewyse is dit duidelik dat die eerste verweerder [meester van die hoërhof] en die amptenare in geen stadium van die derde verweerder [Kozonguisi] vereis het om verantwoording van enige van die bates te doen voordat die sekuriteit verminder is nie,” lui die uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!