Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson Hatuikulipi, gister in die hoërhof in Windhoek tydens sy aansoek om borgtog. Foto Facebook
Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson Hatuikulipi, gister in die hoërhof in Windhoek tydens sy aansoek om borgtog. Foto Facebook

E-posse weerspreek glo Fitty se verweer

Regter aanvaar dokumente as bewysstukke
Nog 'n Fishrot-beskuldigde poog om op borgtog vrygelaat te word en gister was mnr. Tamson Hatuikulipi se derde dag van kruisondervraging.
Kristien Kruger
Een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, is gister tydens kruisondervraging uitgevra oor e-posse van medebeskuldigdes wat sy beweerde betrokkenheid by Nangomar en die sameswering tussen ministers en medebeskuldigdes onder die loep bring.

Ná debatvoering oor die toelaatbaarheid van dokumente tydens kruisondervraging in Hatuikulipi se aansoek om borgtog, het regter David Munzu gister in die guns van die staat beslis en die e-posse as bewysstukke aanvaar.

“Jy het met jou medebeskuldigdes saamgesweer om Nangomar te stig met die doel om toegang tot visvangkwotas in Namibië te verkry en die opbrengs onder mekaar te verdeel,” het die staatsaanklaer, mnr. Ezekiel Ipinge, aangevoer.

In 2014 het die ministers van visserye en mariene hulpbronne van Angola en van Namibië, Fishrot-beskuldigde mnr. Bernard Esau, ’n memorandum van verstandhouding onderteken. Hierna het Esau glo Nangomar genomineer om vir visvangkwotas aansoek te doen op grond van dié ooreenkoms.

Nangomar het vanaf 2014 tot 2019 ’n kwota van 50 000 metrieke ton marsbanker ontvang.

Hatuikulipi het dit ontken en volgehou dat hy nie by Nangomar betrokke was nie.

“Ek het niks van die stigting geweet nie. Ek het in Oktober 2013 die eerste keer van Nangomar gehoor en dit was deur e-poskorrespondensie waarin ek ingesluit was omdat ek werk vir Samherji gedoen het.”

Hatuikulipi is ook by e-poskorrespondensie ingesluit waarin ’n medebeskuldigde sê dat die ministers beskerm moet word.

E-POSSE

Hatuikulipi se regsverteenwoordigers het tydens gister se verrigtinge beswaar gemaak teen dokumente waaroor die staat Hatuikulipi wou uitvra.

Hulle het beweer die dokumente het nie die nodige verifikasie nie.

Ná ’n vlugtige verdaging het Munzu gesê die dokumente sal toegelaat word.

“In borgtogaansoeke is relevante inligting toelaatbaar. Die gewig daarvan sal toepaslik oorweeg word,” het hy gesê.

Hatuikulipi het geweier om enige vrae oor die dokumente te beantwoord.

“Daar is met hierdie dokumente gepeuter en ek sal nie daarop kommentaar lewer nie. Ek beoefen my reg op stilswye,” het hy gesê.

Een van dokumente was ’n e-pos van medebeskuldigde mnr. Sacky Shanghala, wat bevestig dat ’n vergadering met die Angolese minister van visserye en mariene hulpbronne geskeduleer is. Hy het verder instruksies gegee ter voorbereiding van die vergadering.

In die e-pos versoek Shanghala dat vliegtuigkaartjies vir hom, Hatuikulipi en James Hatuikulipi gereël moet word.

Hatuikulipi is versoek om Esau te raadpleeg oor sy beskikbaarheid vir die vergaderings. Dít nadat Hatuikulipi getuig het dat hy nooit met sy skoonpa oor sy werk vir Samherji gepraat het nie.

In dieselfde e-pos is administratiewe aspekte van Nangomar ook bespreek.

Die borgtogaansoek duur vandag voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!