Fishrot: Gustavo se borgtog in gedrang

Volbank regters hoor appèl aan
Die staat appelleer teen die hoërhof se beslissing om borgtog aan mnr. Ricardo Gustavo toe te staan.
Kristien Kruger
“Die hoërhof se beslissing was verkeerd en dit moet reggestel word.”

Só het staatsaanklaer Ed Marondedze Maandag in die hooggeregshof gesê in die staat se aansoek om appèl teen die hoërhof se besluit om die Fishrot-beskuldigde, mnr. Ricardo Gustavo, se borgtogaansoek toe te staan. Die appèlaansoek is deur ’n volbank regters in die hooggeregshof aangehoor.

Marondedze beweer die staat het ’n sterk saak teen Gustavo en hy kon selfs gedurende sy aansoek om borgtog in die hoërhof nie antwoorde verskaf op verskeie dokumente waarop die staat in hul saak steun nie.

“Ons het feite na hom geslinger en gewys ons het sterk bewyse teen hom en sy medebeskuldigdes,” het Marondedze Maandag gesê.

Gustavo se regsverteenwoordiger, adv. Anton Katz (SC), het uitgewys dat ’n persoon nie as ’n afwagtende straf in aanhouding gehou moet word nie en meen die staat se argument het geen meriete nie.

“Borgtog handel nie oor skuld of onskuld nie. Die beskuldigde het bewys dat hy ’n goeie kandidaat vir borgtog is,” het Katz gesê.

NUWE FEITE

Regter Herman Oosthuizen het in Desember verlede jaar borgtog van N$800 000 aan Gustavo toegestaan.

Dit was Gustavo se tweede aansoek om borgtog en was op nuwe feite gebaseer nadat sy oorspronklike borgtogaansoek van die hand gewys is. Gustavo het teen dié beslissing in die hooggeregshof geappelleer en die appèl is ook van die hand gewys. Volgens dié uitspraak was dit nie in openbare belang of regspleging om borgtog aan hom toe te staan nie.

Marondedze sê die nuwe feite waarop gesteun is, het nie ’n invloed op die kern van die oorspronklike aansoek gehad en die rede waarom dit van die hand gewys is nie.

“Dit verander nie die feit dat dit steeds nie in openbare belang of regspleging is nie,” meen hy.

Katz beweer indien Gustavo borgtog toegestaan word, daar geen bewyse is dat dit tot nadeel van openbare belang sal wees nie.

“Daar sal dalk ’n koerant berig wees, kommunikasie op WhatsApp-groepe en mense wat tussen mekaar goed sê. Daar is wel niks waarteen die publiek beskerm moet word nie.”

Katz meen verder dat regspleging beteken dat die vrylating op borgtog op een of ander manier die verhoor onder verdenking sal plaas en daar is glo geen bewyse dat dit die verhoor sal beïnvloed nie.

Regters David Smuts, Elton Hoff en Sylvestor Mainga het die saak aangehoor en het aangedui dat hulle partye in kennis sal stel wanneer die uitspraak gereed is.

Gustavo is tans die enigste Fishrot-beskuldigde wat suksesvol was in sy aansoek om borgtog. Sy medebeskuldigdes is steeds in aanhouding.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!