Die Windhoek Sentrale Gevangenis Foto Argief
Die Windhoek Sentrale Gevangenis Foto Argief

Gevangene se eis teen minister misluk

Kristien Kruger
’n Gevangene se eis van N$1 miljoen teen die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys.

Alfeus Hafeni, ’n gevangene in die Windhoek Sentrale Gevangenis, het aangevoer die owerhede van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) het nie sy voorgeskrewe medikasie en ’n hoëveseldieet aan hom verskaf nie.

Hy beweer ook sy gesondheid het verswak weens die owerhede se versuim om mediese hulp aan hom te bied.

Hy het N$1 038 000 in skadevergoeding geëis en beweer sy grondwetlike reg tot gesondheid en liggaamlike integriteit is geskend.

Die minister, NSC en die Windhoek Sentrale Gevangenis se owerhede het wel aangevoer dat Hafeni mediese sorg ontvang het en gevangenes reeds ’n hoeëveseldieet ontvang het.

“Met inagneming van al die getuienisse, bewyse en die waarskynlikhede, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die verweerders [minister, NCS] redelike en die nodige sorg aan die eiser [Hafeni] verskaf het,” het regter Kobus Miller in sy uitspraak gesê.

AGTERGROND

Hafeni se privaat dokter het hom glo in Junie 2017 met hardlywigheid gediagnoseer. Sy dokter het medikasie aan hom voorgeskryf en gesê hy moet ’n hoëveseldieet volg.

Hy het na bewering die voorskrif aan die tronkowerhede gewys en gesê hy het nie die geld om die medikasie te koop nie en het versoek dat hulle hom help om dit deur die staat te verkry.

Hy voer aan hy het nooit die medikasie ontvang nie, wat gevolglik daartoe gelei het dat hy aambeie en anale splete gekry het waarvoor hy ’n operasie moes ondergaan.

Lede van die NSC het tydens die verhoor getuig dat Hafeni wel mediese behandeling ontvang het.

“Hy is altyd hospitaal toe geneem wanneer dit nodig was en daarom is sy regte op geen manier geskend nie,” het die verweerders in hul pleitstukke aangevoer.

Dié bewering is gestaaf met inskrywings in Hafeni se paspoort wat dui dat hy verskeie kere na die Katutura-staatshospitaal geneem is.

Geen bevel is ten opsigte van koste uitgereik nie en die saak is gevolglik van die rol geskrap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!