Man skuldig bevind aan moord op swanger meisie
Reeds tien jaar ná die noodlottige dag
Die man wat sy 18-jarige swanger meisie in 2012 met 'n mes doodgesteek het, is gister skuldig bevind.
Die man wat tien jaar gelede sy 18-jarige meisie vermoor het terwyl sy 15 weke swanger was, is skuldig bevind.
Deon Boois is Woensdag in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind op ’n klag van moord saamgelees met die bepalings van die wet op die bekamping van huishoudelike geweld.
Die oorledene, me. Barbara Ganses, was 15 weke swanger met tweelingseuns toe Boois haar op 9 Desember 2012 in die omgewing van Rehoboth vermoor het.
Boois het haar vier keer met ’n mes gesteek en sy is op die toneel dood.
“Die oorledene het steekwonde aan die bors, hart en longe gehad wat tot haar dood gelei het. Dit is lewensnoodsaaklike organe. Vir die beskuldigde om sy aanranding op dié organe van die oorledene te rig, is ’n duidelike aanduiding dat hy haar wou dood hê. Hy het daarom met direkte bedoeling opgetree; om dood te maak,” lui regter Naomi Shivute se uitspraak.
Hoewel Boois aan die begin van sy verhoor onskuldig gepleit het, het sy suster getuig hy het vir haar gesê hy het Ganses vermoor en dat hy nie meer wou lewe nie.
Boois het glo die moordwapen vir sy suster gegee en haar gevra om hom ook dood te maak.
“Die beskuldigde se suster het getuig hy het die mes wat in die pleging van die misdaad gebruik is, aan haar oorhandig. Toe die mes vir DNS-ontleding geneem is, is gevind die bloedvlekke op die mes is dié van die oorledene. Dit kan nie blote toeval wees nie,” lui die uitspraak.
Boois se ma het die gesprek gehoor en ook daaroor getuig.
“Nadat die getuienisse en bewysstukke in sy geheel opgeweeg is, is die hof tevrede met die getuienis van Evangeline Eixas [Boois se suster] en Hermien Witbeen [Boois se ma]. Hulle is geloofwaardige en betroubare getuies.
“Die beskuldigde se bewerings dat hy nie die oorledene gesteek het nie, hy nie vir sy suster gesê het dat hy die oorledene gesteek het nie, en dat hy nooit die moordwapen aan sy suster oorhandig het nie, is blote ontkennings en word verwerp.”
Boois bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 10 Oktober waartydens sy regsverteenwoordiger finale betoë ter versagting van vonnis sal lewer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie