Toutrek oor drie minderjariges se toesig
Kinders tans in stiefma se sorg
'n Vrou het onlangs 'n dringende aansoek by die hof ingedien vir 'n interdik om toesig oor haar susterskinders te kry.
Twee tienersusters en hul 12-jarige broer se ouers is albei dood en die kwessie van hul toesighouding het gister vlugtig in die hof gedraai voordat die saak teruggetrek is.
Die minderjarige kinders het in 2014 hul ma aan die dood afgestaan en in 2021 het hul pa ook gesterf. Die kinders is sedertdien in hul stiefma se toesig. Hul ma se suster het onlangs ’n saak in die hoërhof aanhangig gemaak waarin sy ’n tussentydse interdik versoek het wat die kinders in haar toesig plaas totdat die kinderhof oor die toesig van die kinders beslis het.
Die kinders se tannie het beweer dat hul stiefma hulle afskeep en dat sy toesig oor die kinders moet kry. Sy het wel gister die aansoek teruggetrek en die saak is gevolglik van die rol geskrap.
AGTERGROND
Nadat die kinders se ma in 2014 dood is, is haar man en biologiese pa van die kinders as voog en toesighouer aangewys.
Hy het in 2016 weer getrou en Noorde toe getrek. Die kinders het in Windhoek agtergebly omdat hul pa na bewering hulle nie verder wou ontwrig deur hulle uit die skool te haal nie.
’n Maand ná sy dood, het die kinders se tannie aansoek om voogdyskap gedoen, maar is in kennis gestel dat die pa in sy testament sy vrou, die kinders se stiefma, as sy kinders se voog aangewys het.
Die kwessie oor wie die voog en toesighouer van die drie minderjariges moet wees, is tans hangend in die kinderhof.
“Ek verstaan nie hoekom die respondent (kinders se stiefma) die kinders se voog wil wees nie. Sy het nog nooit as die primêre versorger vir die kinders opgetree nie en ek vermoed die aansoek was net gebring vir finansiële gewin,” beweer die kinders se tannie in hofstukke wat op 18 November by die hoërhof in Windhoek ingedien is.
Sy verwys hier na die bepaling in die testament met betrekking tot die kinders se erfenis en die maandelikse pensioenbetaling wat tot voordeel van die voog en die minderjarige kinders gebruik moet word.
“My bedoeling is om die kinders te versorg en te ontwikkel. Ek wil hulle leer van hul kultuur, hulle aanmoedig om deel te neem aan gesonde sosiale aktiwiteite en seker maak hulle voldoen aan skoolverpligtinge. Ek wil vir hulle emosionele ondersteuning bied en seker maak dat daar in hul beste belange opgetree word,” het die kinders se tannie in hofstukke gesê.
Die kinders se stiefma ontken dat sy die kinders afskeep en sê sy sien na hulle om asof hulle haar eie is.
‘EK SAL HULLE VERSORG’
“Ek het die kinders ontmoet nadat hulle hul ma verloor het. Sedertdien het ek hulle gekoester en hulle versorg asof hulle my eie is. Ons het ’n hegte emosionele band gekweek en ek is baie lief vir hulle,” het die stiefma in haar verklaring gesê wat op 21 November by die hof ingedien is.
Ná haar man se dood het sy glo elke maand vir ongeveer twee weke in Windhoek kom bly om na die kinders om te sien. Sy sê hoewel sy nie voltyds by die kinders is nie, het sy altyd seker gemaak dat hulle alles het wat hulle benodig.
Die kinders het ook ’n permanente versorger wat kosmaak, skoonmaak, hul klere was en hulle rondry.
“Hierdie versorger is egter op geen manier die primêre versorger nie, want dit vereis meer as bloot take verrig,” het sy gesê oor die aantyging dat sy nie self na die kinders omsien nie.
Sy het glo onlangs besluit om terug Windhoek toe te trek.
Die stiefma beweer verder die kinders se tannie het nie so ’n noue verhouding met die kinders soos sy beweer nie en die kinders het glo gesê hulle wil nie onder haar toesig wees nie.
“My oorlede man het die minderjarige kinders aan my toevertrou en ek sal hulle beskerm en versorg.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie