Verhoor moet opnuut begin ná hof fout maak

Man wurg sy meisie
Dit het tydens 'n appèlsaak aan die lig gekom dat 'n landdros op Aus 'n man verkeerdelik skuldig bevind en gevonnis het op 'n ligter klag as dit waarop hy tereg gestaan het.
Kristien Kruger
Die skuldigbevinding en vonnisoplegging van ’n man wat sy meisie geklap en gewurg het tot sy haar bewussyn verloor het, is Maandag ter syde gestel en terugverwys na die landdroshof op Lüderitz.

Dit volg nadat die staat suksesvol was in sy appèl teen landdros Adelinuh Hailonga se beslissing dat John Joshlyn Isaack ’n boete van N$4 000 moet betaal of 12 maande gevangenisstraf moet uitdien wat algeheel opgeskort is vir vyf jaar op sekere voorwaardes.

Isaack het erken hy het sy meisie in Augustus 2019 naby die Kanana Lodge in Aus aangerand en het skuldig gepleit op ’n klag van aanranding, maar het ontken hy wou haar ernstig beseer.

Die landdros het hom skuldig bevind op ’n klag van aanranding, ten spyte van die feit dat hy tereggestaan het op ’n klag van aanranding om ernstig te beseer saamgelees met die bepalings van die wet op die bekamping van gesinsgeweld.

Regter Philanda Christiaan het Maandag in die hoërhof in Windhoek uitspraak gelewer en beslis dat die verhoor van voor af moet begin met Isaack wat teregstaan op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

APPÈLAANSOEK

Die staat het in sy aansoek om appèl daarop gewys Isaack het in die hof erken dat hy sy meisie gewurg het tot sy haar bewussyn verloor het.

“Daar word aangevoer om ’n persoon te verwurg tot hulle hul bewussyn verloor, is ’n aanduiding dat die respondent [Isaack] die klaer ernstig wou beseer,” beweer die staat.

Die staat voer dus aan dat Hailonga ’n fout begaan het deur nie in ag te neem dat Isaack se erkenning ’n aanduiding is van aanranding met die doel om ernstig te beseer nie.

“Toe die respondent [Isaack] gesê het hy het geen bedoeling gehad om haar ernstig te beseer nie, maar erken het dat hy haar verwurg het totdat sy haar bewussyn verloor het, moes die landdros nie voortgegaan het om hom aan gewone aanranding skuldig te bevind sonder om die staatsaanklaer die geleentheid te gun om dit te aanvaar of teen te staan nie.”

Die staat het aangevoer dat Hailonga die verrigtinge moes staak en ’n pleit van onskuld moes aanteken nadat Isaack gesê het dat hy nie die bedoeling gehad het om haar ernstig te beseer nie.

Sodoende kon die staat die geleentheid gegun word en bewyse ten opsigte daarvan lewer om die klag te probeer bewys.

Isaack se regverteenwoordiger, Joseph Andreas, het in sy hoofbetoë saamgestem dat Hailonga onder omstandighede verkeerd opgetree het en het saamgestem dat die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel word en die saak teruggestuur word na die landdroshof.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!