Geslote toilette in die bos
Reeds in 2017 opgerig
Die geïsoleerde San-gemeenskap op Okarongo in die Omahekestreek wag reeds vyf jaar lank vir beloftes om te realiseer.
Tien voltooide toilette staan verlore in die veld in die verafgeleë Okarongo in die Otjombinde-kiesafdeling in die Omahekestreek.
Dié toilette is reeds in 2017 teen ’n koste van tussen N$70 000 en N$80 000 per toilet opgerig, maar is nooit in gebruik geneem nie.
Dit weens die feit dat niemand weet waar die sleutels is nie.
Rondom die toilette bly ongeveer 200 lede van ʼn San-gemeenskap wat daarheen verskuif is.
Beloftes van ʼn kliniek en ’n skool het nooit gerealiseer nie en die inwoners moet in informele huise van plastiek en afvalmetaal oorleef.
Kwesbare Namibiërs wat die regering glo verskuif en daarna van vergeet, het dié week aan die lig gekom toe die streekraadslid van die Otjombinde-kiesafdeling, mnr. Winsel Kavaka, die voorsitter van die Nasionale Raad, mnr. Lukas Sinimbo Muha, na dié San-gemeenskap geneem het.
Die parlement se interne kommunikasiedepartement het die geleentheid opgeneem.
Volgens Kavaka is die gemeenskap vanaf Eiseb Blok Een verskuif omdat hulle té naby aan die stedelike Eiseb Blok Sewe was om hul kultuur te kon beoefen, en om hul toegang tot alkohol te beperk.
Hy sê die grond waarheen hulle verskuif is, was voorheen onaangeraakte natuur.
Dit was reeds vyf jaar gelede en hy is eers ’n jaar en ’n half terug tot die raad verkies, sê hy.
Hy sou die kantoor van die eerste minister vir meer inligting nader, het Kavaka gesê.
Muha het die situasie as armoede beskryf en gesê talle mense gaan landswyd gebuk onder dieselfde omstandighede.
“Wat ons julle bemoedig, is dat julle nie uitgesluit moet voel nie. Die regering sal nooit van julle vergeet nie. Julle is deel van die regering en julle moet ons help om te beplan hoe om hierdie gebied te ontwikkel om gepas te kan wees,” het hy aan die gemeenskap gesê.
Die gemeenskap het hul insette op ʼn stuk karton neergeskryf en Muha het gesê hy sal dit as bewysstuk gebruik wanneer hy antwoorde by die eerste minister aanvra.
Muha wil by die streekraad uitvind wat die gedagte was en hoekom dit nie uitgevoer is nie.
“Ek ken nie die oorspronklike plan nie en as die eerste minister mense stuur om op te volg, glo ek, sal hulle julle inlig oor wat vorentoe sal gebeur,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie