Henties se skool bars van trots

Om die ekstra myl vir elke kind te loop
Danksy 'n onlangse besluit om klasgroepe klein te hou, kan die Christelike Privaatskool op Hentiesbaai hul volle aandag aan elke individu gee.
Iréne-Mari van der Walt
Met die Christelike Privaatskool op Hentiesbaai wat uitsien na hul 30ste verjaardag, onthou Adri Terblanche, die skoolhoof, die skool se nederige begin.

“Ons skool het verskriklik klein begin. Ons het eers in ’n motorhuis skoolgegee en toe na ’n huis verskuif. Later is grond aan ons geskenk en toe het ons begin om ons skool te bou,” sê Terblanche.

Die Christelike Privaatskool Hentiesbaai is vir die skoolbestuur uiters belangrik. “Ons wil hê elke kind moet weet hy is spesiaal en daarom het ons raad besluit om net 10 leerlinge in ’n graad toe te laat,” sê Terblanche.

Dit laat onderwysers toe om leerlinge op hul naam te ken en om individuele aandag aan elke leerling se sterk- en swakpunte te kan gee.

“Ons onderwysers is toegewyd. Hulle sal altyd die ekstra tree met elke kind loop. Daar word in elke kind belê en hierdie is ook net moontlik deur ons raad se besluit om die groepies klein te hou,” sê Terblanche.

Terblanche vertel dat die skool se grootste droom is om ’n skoolsaal te bou, maar dat die kostes hiervan effe bo hul vuurmaakplek is.

“Die dak is ons grootste uitgawe. Die dak alleen sal ons amper ’n half miljoen dollar kos,” sê sy.

Die Christelike Privaatskool Hentiesbaai is uiters trots op hul jaarlikse mini-dash asook die gemeenskap wat hulle graag ondersteun.

“Ons het ’n paar gretige pannekoekbakkers wat gereeld vir ons geld deur pannekoekverkope insamel. Aangesien Henties so klein is, wil jy nie altyd vir die besighede vir geld vra nie – daar is net ’n paar besighede op die dorp,” sê sy.

Hulle is net so trots op hul deelname aan die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso).

“Die laaste twee jaar was veral moeilik met Covid, maar hul vakhoofde was altyd beskikbaar om te help en ons kan hulle nie genoeg bedank nie. Napso het ons regtig ondersteun. Mense weet nie dat hulle so baie doen nie, maar hulle doen regtig baie vir ons skole,” sê Terblanche.

Sy vertel spesifiek van ’n onderwysersnaweek wat deur die organisasie begin is. “Dit het ons só baie gehelp. Hulle het ons opleiding gegee in allerhande vakke – selfs robotika wat nog ’n nuwe vak is,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!