Derduisende ly honger
Droogte, werkloosheid, hoë pryse
Die 2022-'23-landbouseisoen se reënval was oor die algemeen swak in die meeste streke, met ondergemiddelde reënval wat aangeteken is.
Henriette Lamprecht – Met ’n “droë” reënseisoen weens die impak van ’n verwagte El Niño wat nog voorlê, staar sowat 22% van die Namibiese bevolking (579 000 mense) nou reeds hoë vlakke van akute voedselonsekerheid in die gesig.
Daadwerklike optrede is nodig om voedselgapings te verminder en die lewensbestaan van inwoners te beskerm.
Twaalf van die land se 14 streke word deur die Integrated Food Security Phase Classification (IPC)-stelsel as fase 3 geklassifiseer – wat dui op ’n krisis. Die oorblywende twee streke, Erongo en Khomas, val in fase 2 wat beteken voedselsekuriteit is hier reeds onder druk.
Voedselonsekerheid ontstaan wanneer mense beperkte fisieke en ekonomiese kapasiteit het om genoeg kos vir huishoudings te verseker.
Namibië se verswakkende voedselsekuriteit word hoofsaaklik gedryf deur klimaatskokke soos droogte en wisselvallige reënval, prysskokke, ekonomiese agteruitgang en werkloosheid.
Die IPC se akute voedselonsekerheidsontleding vir Julie 2023 tot Junie 2024, skets ’n nog donkerder prentjie vanaf Oktober tot Maart aanstaande jaar wanneer byna 700 000 mense – 26% van die bevolking – na verwagting in die krisis- of noodfase sal verkeer.
Buiten vir Erongo en Hardap wat in fase 2 (onder druk) sal wees, sal die res van die streke na die krisisfase beweeg het.
Volgens die IPC-verslag sal Erongo na verwagting in fase 2 bly danksy ingrypings deur die regering en moontlike werksgeleenthede in die mynbousektor. Dieselfde word vir Hardap voorspel wat, danksy die regering se beplande ingryping van droogteverligting in terme van voedselhulp, van fase 3 na 2 sal beweeg.
Voedselsekuriteit sal na verwagting met 4% in die bogenoemde tydperk verswak, omdat dit die eerste helfte van Namibië se “maer” seisoen is, pryse begin styg en die meeste huishoudings het teen hierdie tyd hul eie produksievoorraad opgebruik, terwyl sommige huishoudings nog nie tydens die vorige oesseisoen (veral in die noordoostelike streke) hul gewasse geoes het nie.
Die prentjie lyk aansienlik beter vir die tydperk April tot Junie aanstaande jaar wanneer die situasie na verwagting relatief sal verbeter soos huishoudings begin om kos van hul eie oeste te eet. Na raming sal 491 000 mense of 19% van die bevolking dan hoë voedselonsekerheid ervaar, met die situasie wat in sewe uit 13 streke sal verbeter.
Die 2022-’23-landbouseisoen se reënval was oor die algemeen swak in die meeste streke, met ondergemiddelde reënval wat aangeteken is. Laasgenoemde het gelei tot swak oeste veral in die noordelike gewasverbouingstreke.
In die noordwestelike en suidelike dele van die land het weidingstoestande die meeste agteruitgegaan, veral in die noordelike streke van Kunene, Omusati, Oshana, Ohangwena, Oshikoto en die suidelike streke van Hardap en ||Kharas.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie