Ongeluk verander alles, maar hou hom nie terug
Trotse pa van ’n dogtertjie
Ebenhard Ripunda beywer hom as 'n kampvegter vir gelykte regte en behandeling vir gestremdes.
“Mense met gestremdhede het drome en aspirasies nes enige ander mens. Ons moet met mekaar praat en brûe bou. Ek praat nie net van mense met gestremdhede nie, maar mense in geheel. Mense van ander kulture, taalgroepe, geslagte ... ons moet almal met mekaar praat, bedagsaam teenoor mekaar wees en onsself in die ander se skoene sit. Ons moet ons wêreld, ons plekke met mense wat anders as ons is deel, dit sal die voorbestaan van die mensdom verseker,” sê Ebenhard Ripunda, voorsitter van die Namibian Association of Wheelchair Users (NAWCU).
Ebenhard is in die Okakarara-distrik gebore en het as sesjarige Windhoek toe gekom om sy skoolloopbaan te begin. Hy het in 2004 gematrikuleer en die jaar daarna het hy by die Kollege van die Kunste (Cota) gaan studeer.
“Ek was nog altyd lief vir kuns, animasieflieks en grafiese ontwerp. Ek onthou toe die fliek Lion King uitgekom het asof dit gister was. Wat my altyd gefassineer het was die hoe. Hoe het hulle dit gemaak? By elke DVD was altyd ’n deel waar hulle gewys het hoe dit gemaak is, hoe die tekeninge gedoen is en hoe die hele animasie bymekaar gekom het. Ek het altyd eerste dit gekyk voordat ek die fliek gekyk het. Die kreatiewe proses het my gefassineer.”
Hy het vir ’n tweejaarkursus in grafiese en webontwerp ingeskryf, wat ook fotografie en animasie ingesluit het.
“Ek was ook baie betrokke by die kerk en het my lewe aan die Here gegee.”
Ebenhard se twee passies in die lewe in daardie stadium was die soektog na die doel van sy lewe, wat hy op aarde doen en wie God is, asook animasie en teken.
DIE ONGELUK
Op 24 Desember 2007 is beide sy passies uitgedaag toe hy in ’n ongeluk was wat hom verlam gelaat het.
“Ek het saam met ’n vriend na ’n troue in die Noorde gery. Ek het ook gegaan om die evangelie daar te gaan versprei, toe ek in ’n motorongeluk was.
“Ek het my nek en ruggraat gebreek. Hulle het gesê ek sal nooit weer loop nie. Ek was nog nie eens 21 nie en aan die begin van my lewe.
“My hele wêreld was omver gegooi en ek het baie vrae gehad. Vrae soos hoe kan iemand wat besig was om die Here se werk te doen in so ’n ongeluk wees? Wat nou?
“Die ongeluk het ook my hande en vingers beïnvloed en ek kon nie meer ’n pen of verfkwas vashou nie. Ek kon nie meer teken nie. Ek het pas begin leer om kitaar te speel en nou kon ek die instrument nie eens vashou nie.”
Die begindae was vir hom baie moeilik, omdat hy van voor af alles moes leer soos om regop te kan sit, om sy tande te borsel en om self te kan eet.
“My familie, vriende en mense van die kerk het my bygestaan. My ma het alles net so gelos en my kom help versorg. Ek was soos ’n baba en sy het my verpleeg en my weer goed geleer.”
Hy het berading gekry en vrede gemaak met die feit dat ongelukke gebeur.
“Ek het krag daarin gevind om weer my tande te leer borsel. Ek het weer die potlood opgetel en begin skets. Omdat ek dit op ’n ander manier vasgehou het, het my tegniek verander. Ek het my pad terug na God gevind.”
Hy is terug COTA toe om sy studies in grafiese ontwerp en videoredigering klaar te maak. Ná sy studies het hy sy internskap as junior grafiese ontwerper by Ogilvy Namibia gedoen.
LIEFDESLEWE
“Ek het altyd gewonder en myself gevra of ek as ’n persoon in ’n rolstoel liefde kan vind?”
Ebenhard het terug kerk toe gegaan en daar vir Fabiola ontmoet. Hulle het verlief geraak en hy het haar uiteindelik gevra om te trou.
“Ek het natuurlik ’n miljoen vrae gehad. Ernstige vrae, soos of ek haar seksueel kan bevredig of ek ’n pa kan word. Goed wat ek en sy saam na ons in die huwelik getree het deur ons liefde vir mekaar, geduld en respek ontdek en uitgevind het en vandag is ek die trotse pa van Delight, my driejarige dogtertjie.”
Hulle het geweet dat hul verhouding anders en ’n besondere uitdaging sou wees.
“Wanneer ons vir ’n romantiese uitstappie gaan, dan kan ons nie hande vashou nie, omdat sy die rolstoel stoot en agter my is. Dis ons realiteit. Maar ons pak elke uitdaging saam aan.”
VERENIGING
Ebenhard het besef hy is nie die enigste persoon in die land wat in ’n rolstoel is nie en sal ook nie die laaste sal wees nie.
“Namibië is ’n land met van die hoogste ongeluksyfers ter wêreld. Daar is so baie van ons met soveel vrae en ons kan en moet mekaar help. Dit het tot die stigting van die Namibian Association of Wheelchair Users (NAWCU) in 2016 gelei.”
Die organisasies is gestig met die doel om mekaar te help en ondersteun en om vir die regte van mense in rolstoele te veg.
Tans het die organisasie sowat 55 geregistreerde lede van wie die meeste in die Khomasstreek woon. Ander lede woon by die kus en in die Noorde.
“Ons het ’n Facebook-blad waar ons mekaar bystaan en raad gee. ’n Ongeluk kan met enigiemand gebeur en die aanpassing is moeilik, skokkend en dit voel asof jou lewe verby is, maar hier is ’n hele groep mense wat reeds daar deur is en wat dalk nie al die antwoorde het nie, maar ons weet waardeur jy gaan; ons kan luister en raad gee.”
NAWCU hou elke tweede Saterdag ’n ondersteuningsgroepbyeenkoms. Hier word onder meer stories uitgeruil en inligting gedeel oor die voorkoming en versorging van druksere, hoe om ’n rolstoel skoon te maak en te diens.
“Ons help ook ons lede om vir die maatskaplike toelae van die regering aansoek te doen. Dit gee mense met gestremdhede ’n klein inkomste en maak hulle bietjie meer onafhanklik.”
STUDIES
Ebenhard is ook besig met die laaste jaar van sy teologiestudies.
“In 2019 het ek na antwoorde begin soek op die vraag hoe teologie en gestremdheid bymekaar pas. Ek het is in kontak geplaas met ’n organisasie wat leiers in Namibië oplei. Ek is nou in my laaste jaar en wil vrae beantwoord soos waar is God wanneer dit seer is, of wat is ’n wonderwerk.
“Daar is Afrika-tradisies wat beweer mense met gestremdhede getoor is. Wanneer ek na die nedersetting toe gaan, is mense onder die indruk dat ek getoor is omdat ek in ’n rolstoel sit. Wanneer ek kerk toe gaan, moet ek myself beskerm omdat die pastoor my uit die stoel wil pluk en vir my wil bid sodat ’n wonderwerk kan gebeur.
“Ek hoop ek kan al my vrae beantwoord kry, om my kennis te kan deel en mense te kan inlig.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie