Polisie slaan slag met dwelmvondse

Heroïen, dagga van bykans N$2 miljoen gevind
In twee groot dwelmdeurbrake is beslag gelê op daggaplante en heroïen van nagenoeg N$2 miljoen.
Ronelle Rademeyer
Die polisie se dwelmeenheid het die naweek ’n groot slag geslaan toe hulle tydens ’n klopjag op ’n daggakweekhuis afgekom het met ’n waarde van N$277 000, en beslag gelê het op heroïen van meer as N$1,57 miljoen in die reistas van ’n Namibiër op pad na Indië.

Inwoners van die gesinsbuurt Kleine Kuppe was Donderdagaand stom van verbasing toe die polisie toegeslaan het op ’n huis in Sprokieswoudstraat (erf nr. 151) met ’n “baie goed ingerigte” binnenshuise daggakweekhuis.

Die 39-jarige vermeende meesterbrein agter die onwettige dwelmoperasie is tydens die klopjag in hegtenis geneem en sal vandag in die hof verskyn op klagte van dwelmhandel en rampokkery.

Hy is van Portugese herkoms.

Die daggaplante, wat in drie vertrekke in die huis onder klimaatbeheerde toestande gekweek is, sou volgens die polisie meer as 5,5 kg dagga lewer waarvan die waarde N$277 000 is.

Intussen word ’n 29-jarige Windhoeker by die Klein-Windhoek-polisiekantoor aangehou nadat sy Saterdag omstreeks 15:00 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem is.

Volgens die polisie was 3,124 kg heroïen na bewering in haar reistas versteek.

Sy was op pad na Nieu-Delhi in Indië en sou met Ethiopian Airlines via Addis Abeba daarheen vlieg, blyk dit uit die polisie se verslag.

Die heroïen se waarde beloop N$1 572 500. Die polisie se ondersoek na dié dwelmsmokkelary duur voort.

Komm. Ismael Basson, bevelvoerder van die polisie in die Khomasstreek, sê sy is na bewering as 'n dwelmmuil deur 'n georganiseerde dwelmsindikaat gebruik en dat haar inhegtenisneming die spreekwoorderlike oortjies van die seekoei is.

Sy sal ook vandag 'n eerste verskyning in die landdroshof maak.

KLEINE KUPPE

Hy sê die daggavonds in Klein Kuppe het gevolg nadat die polisie reageer het op inligting van die publiek.

“Dit is baie moeilik om so iets te ontdek aangesien ’n gewone woonhuis gebruik is,” het hy aan Republikein gesê.

Volgens hom is die beskuldigde voorheen op soortgelyke klagte in hegtenis geneem. Hy was uit op borgtog toe hy na bewering dié kweekhuis bedryf het.

‘n Anonieme inwoner wat ook in daardie straat woon, sê hy kan nie glo dié daggbedrywighede het onder hul neuse plaasgevind nie.

Volgens Basson is die binnenshuise operasie met groot kundigheid bedryf.

Die polisie se ondersoek duur voort en nog mense kan moontlik in hegtenis geneem word, sê Basson. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!