Sokkerspeler ingeloop in eiendomstransaksie

Tientalle ontvang nooit grond waarvoor hulle betaal het
Die Brave Warriors-voorspeler is een van vele wat verontrief is ná 'n omstrede sakeman sy swaar verdiende kontant in sy sak gesteek het in 'n eiendomstransaksie wat nooit gerealiseer het nie.
Limba Mupetami
Die Brave Warriors-voorspeler Sadney Urikhob is onder tientalle mense wat hul wonde lek ná hulle ingeloop is deur mnr. Simon Kapenda, ‘n omstrede sakeman aan wie die sokkerspeler glo N$215 000 betaal het vir eiendom wat hy sedert 2016 nooit ontvang het nie.

Urikhob, wat in Thailand speel en sewe internasionale doele vir Namibië aangeteken het, het die geld aan ‘n agent betaal wat self nou teen die sakeman gedraai het.

Kapenda – wat homself dikwels midde omstredenheid bevind wanneer dit kom by mislukte transaksies en belowende megabeleggings wat nooit die lig sien nie – het honderdduisende dollars uit ten minste 25 kopers gekry, insluitend verskeie openbare figure, aan wie hy grond aan die buitewyke van Windhoek verkoop het wat glo nie aan hom behoort nie.

Nou het sy slagoffers ‘n WhatsApp-groep gestig met die doel om saam te span en Kapenda in een stem te konfronteer oor sy versuim om hul geld terug te gee.

GEWOONTE-SWENDELAAR

Toe die Otavi-dorpsraad in 2013 bande met Kapenda se Groot Group (Edms) Bpk verbreek het nadat die groep nie ’n ambisieuse belofte kon nakom om ‘n staalmeule van N$3 miljard in die dorp op te rig nie, het vele gedink dit was die einde van sy sakeloopbaan.

Hulle was verkeerd.

Dieselfde jaar het Kapenda daarin geslaag om die armoed-geteisterde gemeenskap van Tses te mislei met die belofte om ‘n glasfabriek ter waarde van N$41 miljard op te rig. Dit het ook nooit gerealiseer nie.

Hierdie keer was dit grondlose individue wat vir Kapenda se sjarme geval het. Onder hulle was Urikhob, ’n vlugvoetige doelskieter wat op 30 die einde van sy sokkerloopbaan nader.

Ons susterkoerant Namibian Sun het ‘n skulderkenningskontrak onder oë gehad waarin Kapenda erken hy skuld die speler geld.

“Jare het verbygegaan, ek het geen eiendom ontvang nie, en daar is absoluut geen kommunikasie van hierdie individue nie. Ek het jare lank gespaar om eendag ‘n plek te hê wat ek my eie kan noem. Hierdie mense het my van my swaar verdiende geld beroof en ek wil dit regtig net terughê,” het Urikhob gesê.

Urikhob het vertel hy was van plan om ’n stuk grond op ‘n plaas 30 km wes van Windhoek by Kapenda te koop, wat ongeveer N$350 000 sou kos. Hy het ’n kontrak aangegaan om die grond op ‘n plaas in ‘n beoogde landgoed af te betaal – onder ’n onderneming genaamd Groot Westaville Development.

Die sokkerspeler het gesê hy en die bekende TV-persoonlikheid, me. Mara Baumgartner – destyds Kapenda se agent – het by ‘n winkelsentrum in Khomasdal ontmoet sodat hy die kontrak kon onderteken. Namibian Sun het dié kontrak ook onder oë gehad.

Baumgartner het erken sy en Urikhob het wel dié ontmoeting gehad, maar sê sy het hom aangeraai om eers net N$45 000 te betaal.

“Ek het net probeer om vir Urikhob raad te gee, hy was dom om nie na my te luister nie,” het sy bygevoeg.

Sy het verder gesê sy was aanvanklik nie die agent met wie Urikhob gekommunikeer het nie, maar dat dit iemand genaamd Staden Siyoka was.

“Ek het net die kontrak by die kliënt gaan aflewer aangesien Siyoka in daardie stadium uitstedig was. Siyoka was die uitvoerende hoof van Westaville,” het Baumgartner verduidelik.

Ten spyte daarvan dat Baumgartner aanvanklik gesê het sy was nie bewus van Kapenda se bedoelings nie, het sy met die sak patats vorendag gekom toe Urikhob nie die enigste kliënt was wat Kapenda ingeloop het nie.

“Daar is soveel ander mense, mediese praktisyns en ingenieurs ook.” Sy wou egter nie hierdie individue se name bekend maak nie.

“Ek voel asof hierdie mense se ellende oor my hang en dit moet nou stop. Teen die tyd dat ek hulle ontmoet het, was ek bekommerd die ‘ontwikkeling’ neem te lank en ek het hulle gevra om versigtig te wees.”

“Urikhob het sonder my medewete die grond afbetaal wat nog nie eens onderverdeel was nie. Niemand het hom gedwing om dit te doen nie. Dit is nie reg om my die skuld te gee nie. Ek is mal oor hom (Urikhob). Moenie van my ‘n sondebok maak as ek jou probeer beskerm het nie,” het sy bygevoeg.

Toe hy om kommentaar genader is, het Kapenda volgehou die Covid-19-pandemie het sy planne ontwrig, maar dat die landgoed steeds gebou sal word.

“Ons wag net vir goedkeuring van die Windhoek-munisipaliteit, aangesien hulle eers sekere vereistes gehad het,” het hy gesê.

Op die vraag of hy dit aan Urikhob verduidelik het, het Kapenda gesê hy sal beter doen en sy kliënt kontak.

Kapenda het geweier om bekend te maak hoeveel kliënte tans by die beoogde ontwikkeling betrokke is, en gesê dis vertroulike inligting. Hy het Namibian Sun meegedeel die grond is vir N$13 miljoen aangebied, waarna hy N$16 miljoen aangebied het aangesien daar nog ‘n Angolese sakeman was wat daarin belanggestel het.

Hy het verder volgehou die grond bestaan wel, hy dit wel besit en dat die ontwikkeling in Junie sal begin. Hy het verder gesê hy sal probeer om Urikhob se geld teen Mei terug te gee.

Hy het verdere vrae na sy prokureur, mnr. Boris Isaacks van Isaacks and Associates, verwys. Isaacks het gesê daar bestaan ‘n trust waarin hy N$600 000 oorgeplaas het om die plaas te bekom. Hy het bygevoeg sommige kliënte het geld na die trust oorgeplaas, en ander geld is direk aan Westaville Development betaal.

Mnr. Henri van Schalkwyk, uitvoerende hoof van FlyNamibia, het Namibian Sun meegedeel dat die plaas aan die Sandy Trust behoort, waarvan hy ‘n verteenwoordiger is.

Van Schalkwyk het verduidelik Kapenda het ‘n nieterugbetaalbare deposito van N$1 miljoen vir die grond betaal en kon nie die res van die bedrag wat in die kontrak gespesifiseer is, betaal nie.

“Ek het net van die begin af ‘n gevoel gehad dat hy nie die volle bedrag gaan betaal nie. Ek het uiteindelik die kontrak beëindig. Ek kan nie regtig kommentaar lewer oor sy karakter nie, maar die grond behoort nie aan Kapenda nie. Maar ek hoor hy verkoop steeds eiendom aan mense.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!