20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

Maandag 10 April 2000

Twee helde van ’n verwoestende brand in die nywerheidsgebied van Walvisbaai kon gister maar net hoop dat hul vreeslose optrede teen vlamme die lewens van twee kollegas gered het.

’n Brug tussen die private sector en die regering oor die owerheid se omstrede herversekeringskorporasie, Namib-Re, is ’n moontlikheid nadat adv. Vekuii Rukoro, die voormalige besturende direkteur van Namib-Re, Vrydag as die nuwe besturende direkteur van Sanlam Namibia Ltd en Gensec aangekondig is.

Vloedwater in die Kuisebrivier het die see Vrydagoggend twaalf minute voor elf bereik.

Dinsdag 11 April 2000

Indien die regering nie sy finansiële rieme dun sny en regeringsbesteding binne die volgende aantal jare inperk nie, sal die Namibiese ekonomie in die langtermyn in ’n resessie gedompel word.

Die DTA/UDF-koalisie het gister met die aanvang van die begrotingsdebat in die Nasionale Vergadering (NV) te velde getrek teen die grootte van die staatsdiens, die regering se beleid ten opsigte van kommersialisme en deursigtigheid deur die Kantoor van die Ombudsman.

’n Nuwe storm het oor sekuriteitsorganisasies in Namibië losgebars nadat ’n lid van Fidelity Guards in Windhoek vermoedelik met nagenoeg N$180 000 verdwyn het wat hy by Pick & Pay moes afhaal om in ’n bank te deponeer.

Woensdag 12 April 2000

Swerms sprinkane, waarvan die omvang dertig jaar laas gesien is, broei in die Suide uit midde-in ’n tekort aan gifstowwe.

Minstens twaalf plase in die Gobabis-omgewing is onder kwarantyn geplaas nadat ’n besending Namibiese beesvleis byna vir ’n internasionale skandaal in Switserland gesorg het.

Skade van honderdduisende Namibiese dollars is gisteraand op Walvisbaai aangerig deurdat drie winkels deur ’n brand in puin gelê is – die tweede binne ’n week op die hawedorp midde-in streng waterbeperkings.

Donderdag 13 April 2000

Groot opgewondenheid het gisteraand onder Air Namibia werknemers en ’n groepie joernaliste op die lughawe Eros geheers to Air Namibia se tweede Fokker-vliegtuig omstreeks 19:20 op die lughawe neergestryk het.

Die Langstrandse restauranteienaar wat hom weens beweerde Mafia-dade en dwelmsmokkelary midde-in ’n uitleweringsgeding met Italië bevind, het gister slegte nuus in die Hoërhof in Windhoek ontvang.

Onsekerheid oor die toekoms van drie Rehobothse dorpsraadslede, onder wie die burgemeester, is ’n stap verder gevoer deurdat ’n ultimatum verstryk het ingevolge waarvan hulle voor die uitvoerende komitee van die Belastingbetalersvereniging moes verskyn om hul saak te stel.

Vrydag 14 April 2000

Unita het hom met behulp van ’n Oosblok- en Suid-Afrikaanse landmynarsenaal uit Namibië se vooronafhanklikheidsera gewend tot ’n terreurveldtog wat hoofsaaklik onskuldige burgerlikes as teiken het.

’n Ongekende muskietplaag na die onlangse hewige reën gee aanleiding tot ergenis in die Suide van die land.

’n Nare skok het gister op ’n petroljoggie van Windhoek se Blum’s Garage gewag toe hy die olie en water van ’n voertuig nagegaan het waarvan ’n dwergluislang hom onder ’n masjienkap tuisgemaak het.

Die gevierde skut van Namibië, Friedhelm Sack, het onlangs by die wêreld lugpistool-kampioenskap in Australië elfde uit 800 deelnemers geëindig en daarin geslaag om die kwalifiserende punte vir die Olimpiese Spele oop te skiet.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!