3 (nuwe) dinge wat jy oor handelsoorlog moet weet
Ontleders sê die geveg tussen China en die VSA gaan waarskynlik feller word.
Vida Booysen – Spanning tussen die VSA en China het vandeesweek skielik toegeneem toe albei lande hul uitgebreide stel handelstariewe teen mekaar bekend gemaak het.
Die jongste stappe beteken dat die wêreld se twee ekonomiese reuse tariewe op goedere ter waarde van meer as $360 miljard gaan hef.
Ontleders sê die geveg gaan waarskynlik feller word, veral wanneer China nie meer die VSA in eie munt kan terugbetaal nie.
Hier is drie dinge wat jy oor die jongste salvo’s in die voortslepende handelsoorlog moet weet.
1. Wat het hierdie week gebeur?
Pres. Donald Trump van die VSA het Maandag aangekondig ’n tarief van 10% gaan van 24 September op $200 miljard se Chinese goedere, van voedselgeursel tot masjinerie, gehef word.
Hy beplan om dié tarief in Januarie tot 25% te verhoog sou China nie bereid wees om handelstoegewings te maak nie.
China het bykans onmiddellik aangekondig hy gaan tariewe van tussen 5% en 10% hef op $60 miljard se Amerikaanse goedere, van koring tot tekstiele, wat van Amerika ingevoer word.
Dié vinnige vergelding deur China het verdere druk op volgende week se verwagte samesprekings tussen die twee lande geplaas. Dit lyk nie asof enigeen van die twee van plan is om gou bes te gee in dié stryd om mekaar in gelyke munt terug te betaal nie.
Verskeie vorige rondes samesprekings kon geen deurbraak bewerkstellig nie.
2. Watter gevolge hou die jongste stappe vir die wêreldekonomie in?
Die handelsoorlog, wat al sedert Julie aan die gang is, maak maatskappye in Asië en die VSA seer. Die jongste reeks invoertariewe deur die VSA beteken rofweg die helfte van die produkte wat China aan die VSA verkoop, is aan invoerbelasting onderworpe.
Baie maatskappye het reeds gewaarsku dat die handelstariewe hul ondernemings omverwerp en hul inkomste verminder.
Daar is ook kommer dat China, wat meer goedere na die VSA uitvoer as wat laasgenoemde na China verskeep, sy burgers kan aanhits om Amerikaanse produkte te boikot. Dit kan daartoe lei dat Amerikaanse maatskappye uit China onttrek.
Sou die VSA in Januarie sy dreigement uitvoer om die invoertarief tot 25% op te stoot, kan dit werkers en verbruikers in dié land seermaak, sê Wendy Cutler, visepresident van die Asia Society en voormalige handelsdiplomaat van die VSA. Sy het aan Bloomberg gesê dit sal ’n groot hoeveelheid ingevoerde goedere raak.
“Die idee dat invoertariewe op goedere uit China meer werkgeleenthede en produksie in die VSA sal skep, sal nie ’n werklikheid word nie, soos ons reeds gesien het met Ford.”
Aan die einde van Augustus het dié motormaatskappy gesê hy laat vaar planne om die Focus Active, wat hy in China vervaardig, in die VSA te verkoop weens die negatiewe uitwerking van die invoertariewe.
Die meeste groot motorvervaardigers se produksie is oor die planeet versprei, afhangende van waar hulle die koste laag kan hou. Dit het Ford glo $1 miljard gespaar om die Focus Active in China te vervaardig.
Beleggers op internasionale markte is bekommerd. Een uit elke vier professionele beleggers maak hulle gereed daarvoor dat die wêreldekonomie oor die volgende jaar stadiger kan groei, volgens ’n opname deur Merrill Lynch wat Dinsdag gepubliseer is.
3. Hoe het die markte op die jongste gebeure reageer?
Verbasend kalm – met verhandeling op die markte in Asië wat Woensdag op ’n positiewe noot geëindig het en ontluikende geldeenhede het verstewig te midde van verligting dat die jongste tariefaankondigings nie so streng is as wat die mark vooraf gevrees het nie.
“Die vernaamste rede waarom die dollar nie die hoogte ingeskiet het ná die jongste maatreëls nie, is omdat dit wyd verwag is en die finale bedrag is tussen 5% en 10% minder as wat die mark gevrees het,” het Richard Falkhenhall, ’n senior buitelandsevaluta-strateeg by SEB in Stockholm aan Reuters gesê.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie