African Bank lag al die pad bank toe
African Bank lag al die pad bank toe

African Bank lag al die pad bank toe

Die bank se totale deposito's deur kliënte in die vorm van spaargeld en beleggings het met 115% tot R2,4 miljard gestyg.
Elvira Wood



African Bank lag letterlik al die pad bank toe danksy sy goeie resultate vir die jaar tot einde September.

Die bank het 'n netto wins ná belasting van R1,15 miljard aangeteken – 13% hoër as die vorige jaar.

Die bank se totale deposito's deur kliënte in die vorm van spaargeld en beleggings het met 115% tot R2,4 miljard gestyg.

African Bank sê een van die groot redes vir dié goeie prestasie was die bekendstelling van sy MyWorld-­rekening in Mei vanjaar.

Dié en sy ander produkte is wat kliënte gelok het. Die bank het nou 26 000 kliënte wat geld in spaar- en ­beleggingsrekeninge belê. Dit is teenoor die 15 000 van 'n jaar gelede.

Die gemiddelde deposito het nou tot R88 000 gestyg teenoor die R72 000 in 2018.

Die bank sê sedert Mei is daar 100 000 nuwe rekeninge oopgemaak. Dit sluit lenings en kredietkaarte in.

“Sowat 50% van die rekeninghouers is nuwe kliënte,” sê die bank.

Die bank het nou 'n totaal van 1,09 miljoen kliënte.

Sowat een miljoen van dié kliënte leen geld by die bank, en het nie spaar- of ander rekeninge nie. Dit is nou byna weer by die 1,1 miljoen van twee jaar gelede.

Basani Maluleke, uitvoerende hoof, sê die aanvanklike daling in kliëntegetalle was te wagte gegewe dat die bank toe pas uit kuratele gekom het.

Sy sê die groei in die aantal kliënte wys nou dat mense die bank weer vertrou.

Maluleke het die bank se resultate Dinsdag in Rosebank, Johannesburg, met belanghebbendes bespreek.

Maluleke sê omdat die bank nou baie strenger is wanneer lenings aan kliënte oorweeg word, het hy nou sy verwagting vir groei afwaarts aan­gepas.

“Ons besef dat die doelwit om teen 2021 sowat 2,5 miljoen kliënte te hê, nie realisties is nie. Ons het dit nou ­afwaarts na 1,7 miljoen aangepas.”



Lenings

Die bank sê hy bly baie versigtig met sy leningspraktyke omdat verbruikers steeds onder groot finansiële druk is.

Die bank se bruto voorskotte het met 9% tot R30 miljard gegroei.

Gustav Raubenheimer, ­finansiële hoof, sê sowat 84% van voorskotte is aan leners toegestaan wat as “lae risiko” beskryf kan word. Dit is 1% hoër as 'n jaar gelede.

Nuwe lenings en kredietkaarte wat goedgekeur is, beloop R10,8 miljard teenoor die R9,7 miljard in 2018.

Raubenheimer sê direkte verkope en verkope via sy aanlyn platforms het veral met dié groei gehelp.

In 2018 het lenings wat via sy aanlyn platforms aangegaan is, 6% van sy voorskotte verteenwoordig. In 2019 het dit 20% gestyg.

Die bank se kredietverliesverhouding het ook van 11,7% tot 6,9% verbeter.

Raubenheimer sê die bank maak goed werk daarvan om geld wat aan hom geskuld word, te verhaal.

Die bank het in die boekjaar R787 miljoen ingesamel van wat hy as “­afgeskryfde skuld” beskryf.

“Ons word dikwels gevra hoekom ons nie net hierdie rekeninge afskryf nie, maar soos daar gesien kan word, is daar nog baie geld daarin,” sê ­Raubenheimer.

Wat betref die bank se eie skuld, is dit nou R13,428 miljard. Hy het sedert April 2016 reeds R24,4 miljard van sy skuld betaal. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!