Afstand bring perspektief

Yandi Du Plessis
Elize van Huyssteen – From a Distance is Luréne Wilcocks se tweede solo-uitstalling van landskapkunswerke ná Storms, haar debuut-uitstalling in 2020.

Met dié uitstalling neem die kunstenaar tyd om te besin oor die tweede jaar van die wêreldwye pandemie. Luréne, die eienaar van Frames for Africa, se skilderye word vanaf gister (4 November) by The Village Opera House uitgestal.

Luréne druk haar gevoelens en idees op ’n dinamiese, vrye en spontane manier uit. Sy skilder vinnig en vurig, soortgelyk aan haar wisselvallige en entoesiastiese persoonlikheid.

Sy verkies om met olieverf te werk, wat ruimte skep vir ekspressiewe en ryk kleurtone om emosie en intensie oor te dra, eerder as om ’n presiese weergawe van die werklikheid te skep.

Hierdie kunswerke spreek van ’n gewaagde en liberale benadering in die gebruik van intense kleure, vereenvoudigde vorms, vrye kwaswerk, doelbewuste gebaremerke en die rojale aanwending van verf.

Hierdie skilderye het ’n familiariteit met die landskap, beide op ‘n fisieke en emosionele vlak. Om oor die uitgestrekte stukke verskroeide aarde van suidelike Namibië te ry en die verlange na koeler en dorslessende bestemmings, het indrukke op die kunstenaar gelaat.

Warm oker, deurdringende oranje en gebrande rooi kontrasteer met koue blou, donkergrys en stomp wit. Intussen roep die gebruik van sagter tone mauve, turkoois, grys-blou, pienk en room die soel effekte van kustonele op.

Die kunswerke is getekstureerd met dik paletwerk wat met sagter kwaswerk kontrasteer om aparte kleurvelde en duidelike sienings of sentimente te definieer.

Die landskappe is nie noodwendig herkenbare plekke nie, maar eerder tonele van verbeelding en emosie – metafore vir temperamente.

“Ons is nie meer so erg in ’n storm nie, daar was ’n bevryding,” sê Luréne.

“Ingrypings is gedoen en ons leer om die onsekerheid en vreemde terrein te navigeer. ’n Mens kan sê ons sien die groter prentjie, skimpe van hoop te midde van voortdurende natuurrampe en politieke onenigheid. Op ’n afstand kan mens die situasie waarneem en die ontvouing van die groter drama/sage aanvoel.”

Luréne skep haar eie land met sy eie narratief. Hierdie skilderye het die potensiaal om gevoelens van verligting en hoop aan te wakker, maar ook die fel en surrealistiese. Hulle weerspieël botsende emosies en situasies, toekomstige moontlikhede en uitkomste.

Die uitstalling is tot 18 November en toegang is gratis.

FOTO’s Facebook
Van die kunswerke wat deel van Luréne Wilcocks se vorige uitstalling uitgemaak het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!