Air Nam-vlugte na Wes-Afrika 'n mylpaal
Francoise Steynberg
Die nuwe direkte vlugte van Air Namibia na Lagos en Accra in Wes-Afrika is 'n groot mylpaal op die reis na die vestiging van 'n nasionale lugredery wat nie afhanklik van regeringsubsidies is nie.
Só het die waarnemende besturende direkteur van Air Namibia, adv. Mandi Samson, Woensdag tydens die bekendstelling van die nuwe roete na Wes-Afrika in Windhoek gesê.
“Op 29 Junie sal dit die eerste keer wees wat ons na Lagos in Nigerië vlieg en die tweede keer na Accra in Ghana,” het Samson gesê.
Sy sê die besluit om vlugte na Wes-Afrika van stapel te stuur, is volgens die vyfjaar- strategiese plan een van die strategiese doelwitte om teen 2021 sonder 'n verlies uit te kom.
“Die wêreld word kleiner met lugrederye wat hul werksaamhede vergroot en elke moontlike stad en dorp met mekaar verbind. Ghana en Nigerië het gevolg ná volle markpotensiaalanalise en studies gedoen is en ons onderneem het om vyf nuwe roetes in drie jaar van stapel te stuur.”
Samson sê uit die vyf roetes is twee - Gaborone in Botswana en Durban in Suid-Afrika - reeds operasioneel, met Lagos en Accra volgende. Die vyfde bestemming is vir 2019 geskeduleer sodra goedkeuring verkry is.
“Nigerië en Wes-Afrika in die algemeen is die tuiste van die wêreld se grootste bevolkings en die mark is groot. Die groot lugrederye in die wêreld wat onlangs ons mark betree het, is 'n aanduiding dat daar 'n mark hier in Namibië en in Afrika is.”
Samson vra: “Waarom moet ons sit en wag vir ander van buite om die koek te vat en die vrugte te pluk, terwyl ons opsy staan en toekyk?”
Oor waarom Air Namibia na Wes-Afrika terugkeer, vra Samson: “Waarom maak ander lugrederye dit in Wes-Afrika?”
Sy verduidelik Air Namibia het voorheen slegs na Accra gevlieg met geen ambassade wat visums daar uitreik nie, en hierdie keer word Lagos en Accra saamgevoeg met die bykomende geleentheid om mense én goedere tussen die twee stede te vervoer.
Dit is weens die vyfde vryheidsvervoerregte wat die Nigeriese en Ghanese regerings toegeken het.
“Voorheen was daar geen kantoor in Accra om visums na Namibië uit te reik nie. Hierdie keer het ons 'n Namibiese hoëkommissariaat in Accra. Ons hoop ook die regering sal 'n oplossing vir visumsuitreiking in Lagos vind om die beskikbare een in Abuja aan te vul,” het Samson gesê.
EERSTE VLUG UITVERKOOP
Sy is verheug dat die eerste vlug na Lagos 100% uitverkoop is.
Die hoë kommissaris van Nigerië in Namibië, me. Lilian Ijeukwu Onoh, stem saam dat 'n Namibiese erekonsulaat in Lagos gevestig moet word.
“Dit was 'n lang reis met baie onderhandelinge sedert 2003, maar uiteindelik het die blye dag aangebreek. Nigerië het een van die sterkste markte in die wêreld en Lagos het 'n bevolking van 20 miljoen mense en is die vierde grootste ekonomie in Afrika,” het Onoh gesê.
Sy het egter 'n beroep op die ministerie van binnelandse sake en immigrasie gedoen om immigrasiebeamptes op te lei om toeriste vriendeliker te verwelkom.
Die hoë kommissaris van Ghana in Namibië, me. Elizabeth Salamatu Forgor, verwelkom ook die roete.
“Ons glo dit sal betrekkinge tussen Ghana en Namibië versterk - veral op die gebiede van handel, toerisme, onderwys en kultuur,” het sy gesê.
Die roete is van Windhoek af via Lagos na Accra en terug vanaf Accra via Lagos na Windhoek.
Volgens mnr. Paul Nakawa, Air Namibia se korporatiewe kommunikasiebestuurder, kos vliegkaartjies vir die ekonomiese klas N$6 900.
4 VLUGTE PER WEEK
Die gerieflike nuwe roete sal vier keer 'n week - Sondae, Maandae, Woensdae en Vrydae - van Windhoek af verbindings na en van Wes-Afrika met die lugredery se streeksvlugte na en van Johannesburg, Kaapstad, Luanda, Harare, Lusaka, die Victoria-valle, Gaborone, Walvisbaai en Durban voorsien.
“Air Namibia verwag 'n gaping in die mark sal gevul word deur Suider-Afrika mededingend met Wes-Afrika te verbind in minder as ses ure,” het mnr. Wimpie van Vuuren, Air Namibia se senior verkoops- en bemarkingsbestuurder, gesê.
Air Namibia sal op die roete met 'n Airbus A319 vlieg, wat 16 sitplekke in die besigheidsklas en 96 in die ekonomiese klas het, asook twee ton vrag kan dra en met gerieflike beenspasie spog.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie