Air Namibia verdedig skorsings

Catherine Sasman
Catherine Sasman – Air Namibia het nog nie ‘n rede verskaf vir die skorsing van twee van sy werknemers wat die lugredery se voorneme gekritiseer het om buitelandse vlieëniers in diens te neem nie.

Volgens die lugredery word die saak ondersoek.

Mnre. Willem Christiaan en Reginald Kock, onderskeidelik die president en regsraadgewer van die Namibiese unie vir kajuitpersoneel (NCCU) is Donderdag hangende ‘n ondersoek vir beweerde wangedrag geskors.

Die twee hou vol hulle het die opmerkings as verteenwoordigers van die NCCU gemaak, waarvan hulle uitvoerende lede is.

Mnr. Paulus Nakawa, Air Namibia se woordvoerder, het Vrydag egter gesê Christiaan en Kock is eerstens werknemers van die lugredery voordat hulle vakbondlede is.

Volgens Nakawa is Christiaan en Kock gevra om voorleggings te doen oor hoekom hulle nie gekors moet word nie. Dit was voor Air Namibia se waarnemende besturende direkteur, adv. Mandy Samson, haar diskresie oor die aangeleentheid kon gebruik.

Nakawa sê Christiaan en Kock het dit egter nie gedoen nie.

Die vakbondleiers beweer op hul beurt hulle is nooit toegelaat om voorleggings te maak nie. Die NCCU en die Federasievakbond (Tucna) het Air Namibia 24 uur gegee om die skorsings terug te trek en het met massabetogings voor die lugredery se hoofkantoor gedreig.

Nakawa het voorts gesê sommige lede van die media gaan voort om die publiek te mislei en ‘n wanindruk oor buitelandse vlieëniers te skep.

“Die kwessie van buitelandse vlieëniers is nie nuut of vreemd by Air Namibia nie,” het Nakawa gesê.

Volgens hom het die lugredery tans 105 vlieëniers in diens, waarvan 11 buitelandse vlieëniers is.

Laasgenoemde verteenwoordig slegs 9% van vlieëniers met vliegverpligtinge op ‘n ad hoc-basis, of soos hulle benodig word.

Nakawa het beklemtoon meer as 90% van Air Namibia se vlieëniers is plaaslike vlieëniers wat deur die lugredery opgelei is.

Volgens hom bestee die lugredery tot N$30 miljoen per jaar aan die opleiding van plaaslike vlieëniers. Nakawa het gesê Air Namibia sal hiermee voortgaan, omdat dit plaaslike groei ondersteun.

“Die voorneme is om uiteindelik alle ad hoc-vlieëniers te vervang met Namibiërs wat die nodige vaardighede en kwalifikasies het,” het hy gesê.

“Met die uitbreiding van die lugredery se werksaamhede sal Air Namibia voortgaan om meer opleiding te gee. Intussen sal die lugredery meer buitelandse vlieëniers huur totdat die aanvraag geleidelik verminder het.

“Met die huidige uitbreiding van roetes en die implementering van die strategiese plan sal Air Namibia sowat 50 vlieëniers in sy vloot vliegtuie nodig hê. Dié poste sal mettertyd plaaslik geadverteer word,” het Nakawa gesê.

Hy het voorts gesê Namibië het wél ‘n tekort aan vlieëniers, laat staan nog geskoolde vlieëniers.

“Air Namibia bly daartoe verbind om meer vlieëniers op te lei om plaaslike vaardighede te bevorder. Die lugredery moedig Namibiërs aan om ‘n loopbaan in lugvaart te volg en by die nasionale redery aan te sluit.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!