Akkerbouers bekommerd oor lu00e1u00e1t seisoen
Akkerbouers bekommerd oor lu00e1u00e1t seisoen

Akkerbouers bekommerd oor láát seisoen

Indien weerstoestande in die Mieliedriehoek nie vinnig en drasties verander nie, sal min mielies vanjaar in dié gebied geoes word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Akkerbouers in die Grootfontein-, Tsumeb- en Otavi-omgewing is bekommerd oor die láát reënseisoen en sê indien genoegsame reën nie voor die einde van Januarie val nie, sal dit te laat wees om mielies te plant.

Sommiges neem nou ‘n groot risiko deur droog te plant, terwyl ander sê daar het nog niks van belowende weervoorspellings gekom nie en dat dit tot dusver hul droogste seisoen op rekord was.

Mnr. Kaspar Günzel van die plaas Ludendorf sê hy is een van die boere wat ’n fout begaan het deur droog te plant en sy hoop geplaas het op die voorspelling dat reën tussen Kersfees en Nuwejaar sou val.

“Van die plantjies het ontkiem, sommiges het gevrek en van die pitte lê nog in die grond. Boonop is dit baie warm en die plantjies wat ontkiem het, kry baie swaar.”

Hy sê dit is egter nog nie te laat om te plant nie, en indien daar nou binnekort goeie reën kom, sal hy nog mielies plant.

“Tot dusver het niks gerealiseer van die reën wat voorspel is nie. Vir baie van ons akkerbouers is hierdie tot dusver die swakste reënjaar in die geskiedenis.

“Al kom die reën laat en help dat daar genoeg weiding vir ons vee is, sal ons akkerbouers se koppe ook darem deur wees,” het hy gesê.

Mnr. Gerhard Engelbrecht van die plaas Hoba naby Grootfontein, wat verlede jaar as die die Namibiese Akkerbouraad se oeskoning aangewys is toe hy 9,7 ton mielies per hektaar op droëland geoes het, sê die reën is by hom ook skaars.

“Ek is besig om te plant op die dele wat reeds ’n bietjie reën ontvang het. Ek begin nou ook droog plant sodat die saad in die grond kan lê tot die reën wel kom.

“Ons tyd vir plant begin nou uitloop, ons afsnytyd vir plant is so by 15 Januarie. Indien ons lank daarna plant, sal die oorblywende hitte te min wees en die kans vir ryp te groot.

“Voorspellers is dit eens dat hierdie reënseisoen laat is. Ons verstaan dat reënvooruitsigte wel belowend is, maar die tydsberekening is ’n kwessie en die Mieliedriehoek se akkerbouers is bekommerd hieroor,” het hy gesê.

“Sommige akkerbouers het reeds begin plant en dit is ’n groot risiko vir ons," sê Pfeffelbach se mnr. Gernot Eggert, wat ook voorsitter van die Akkerbouerprodusentevereniging (APV) is.

Volgens hom is dit droog in hul omgewing. Van die 300 ha mielies wat hy reeds geplant het, lyk sleg en kom nie uit die blokke nie.

“Die situasie sal egter verander as dit nou iewers goed kan kom reën.”

Hy sê ten spyte van belowende weervoorspellings vroeër in die seisoen het daar tot dusver net klein reënbuie geval.

Hulle hoop die situasie sal drasties verander voor die einde van Januarie.

Mnr. Louis Steyn van die plaas Highlands sê hy kon nog nie eers primêre bewerking doen nie en het tot dusver slegs 35 mm reën in die huidige seisoen gehad.

Hy sê indien die plantdatum sou verbygaan sonder dat genoegsame reën geval het, sal hy net voer kan plant.

“Tans is dit ook so warm hier, dat indien jy mielies sou kon plant, die jong plantjies baie swaar sou kry.”

Hy hoop genoeg reën sal kom sodat hulle minstens genoeg weiding vir hul vee kan hê.

Verlede jaar is ’n rekordoes van altesaam 72 000 ton witmielies vir Namibië verwag nadat boere in die Otavi-vallei, waar baie van die land se droëlandverbouing plaasvind, tussen 800 mm en 1 000 mm reën ontvang het.

Dit was ten spyte van die herfskommandowurmplaag wat die gebied getref het.

Die beste oes wat die land die afgelope 27 jaar opgelewer het, was dié van die 2012-’13-oesjaar toe 72 438 ton mielies geoes is.

Droëland-verbouing vind in Namibië, met die uitsondering van enkele kleinskaalboere in die Zambezistreek, in die kommersiële boerderygebiede plaas.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!