Amateurs soos ambassadeurs by Sun City

Gholf
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Ses Namibiërs het Maandag en Dinsdag aan die finaal van die 2016 Sanlam Kankeruitdaging by Sun City deelgeneem.

Sergio Figueiredo (Walvisbaai gholfklub) en Adri Pienaar (Omeya gholfklub) het die beste van die Namibiërs in onderskeidelik die mans B- en vroue A-afdeling gevaar. Die toernooi is in die individuele stableford-formaat oor 36 putjies by die Gary Player Buiteklub en die Lost City gholfbaan aangebied.

Pienaar, Figueiredo, Suzette Vermeulen, Anja Nel, Abrie van Wyk en Gert Lambert was die ses Namibiërs in die onderskeie afdelings.

Die finaliste se vordering na Sun City was welverdiend nadat die ses eers hul eie klub se kompetisie moes wen wat tussen 1 Maart en 17 Julie vanjaar gespeel is. Klubs dwarsoor Namibië het elkeen sy eie “uitduntoernooi” gehou alvorens die onderskeie wenners van elke afdeling hul weg na Windhoek vir die streekfinaal kon vind. Die finale vir elke streek is tussen 18 Julie en 31 Augustus 2016 afgehandel waar dié drie mans en vroue as wenners en ambassadeurs na vore getree het.

Vroue A-afdeling: Pienaar was ná die eerste dag se 18 putjies met 34 punte gesamentlik eerste saam met Maggie Minnie (Paarl Gk) en Rose Powel (Kambaku Mpumulanga). Algeheel het sy die vyfde plek saam met ses ander vroue gedeel waar Louise Olivier (C-afdeling) met 39 punte die voorloper was.

Op die tweede dag kon Pienaar net 29 punte tot haar totaal van 63 byvoeg om in die vierde plek te eindig en algeheel die 12de posisie in te neem. Maggie Minnie wat dié afdeling oorheers het, se 72 was goed genoeg om haar algeheel tweede ná Louise Olivier (74) te plaas.

Mans B-afdeling: Sergio Figueiredo se 35 en 29 punte op die eerste en tweede dag was goed genoeg om hom in die tweede plek met 64 te laat eindig. Die wenner, Keegan von During van die Strand gholfklub, se 70 was goed genoeg om hom algeheel vierde te plaas. Figueiredo se 29 op dag twee het hom egter gepootjie en hy eindig 15de algeheel.

Die ander uitslae:

Suzette Vermeulen (Omeya) teken 33 en 26 punte aan om agtste in die B-afdeling met 59 punte en algeheel 21ste te eindig.

Anja Nel (Omeya) se totaal van 49 kom van 25 op die eerste dag en 24 na die tweede dag se spel wat haar elfde in die C-afdeling plaas en 36ste algeheel laat klaar maak.

Abrie van Wyk (Omeya) eindig met 57 punte 13de in die A-afdeling en algeheel 27ste.

Gert Lambert (Omeya) beklink met sy totaal van 38 ’n 16de plek in die C-afdeling en word 47ste algeheel geplaas.

• Die Sanlam Kankeruitdaging het vanjaar meer as 40 000 spelers en 800 klubs ingesluit.

Die jaarlikse reeks is die eerste keer in 1993 aangebied. Vanjaar was die mees suksesvolle jaar nóg, toe R4 miljoen vir kanker ingesamel was.

Namibiese gholfklubs het vanjaar met die landwye opbrengs van N$240 000 ten bate van die Kankervereniging van Namibië vorendag gekom.

Hiervan het ’n bykans ongelooflike N$114 000 uit die geledere van Mariental gekom, wie se toernooi minder as 30 spelers bevat het. Met veilings en ander inisiatiewe het dryfvere soos me. Mona Klose van Sanlam se Mariental-tak egter meer as hul kant gebring.

Met die reeks volgende jaar in sy 25ste bestaansjaar, het die organiseerder mnr. Wessel Kotze die Namibiese gholfklubs reeds voortydig aangemoedig om in 2017 hul hand diep in die sak te steek ten bate van die stryd teen kanker in Namibië. Volgens hom word aan die kant van die organiseerders ook ’n paar spesiale idees vir die komende jaar in die mou gevoer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!