Ambassadeur: Japan 'bekommerd' oor N-Korea se missieltoets

VN-lidlande moet gehoor gee aan resolusies, sankies
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Noord-Korea se toets van 'n mediumafstand ballistiese missiel Dinsdag wat oor Japannese grondgebied afgevuur is, is 'n groot bron van kommer vir Tokio.

Japan se ambassadeur in Namibië, mnr. Hideyuki Sakamoto, het Dinsdag ná die toets in 'n onderhoud aan ­Republikein gesê Pjongjang se optrede hou 'n internasionale bedreiging in. “Dit is nie 'n streekskwessie nie, dit is 'n globale kwessie.”

Hy het beklemtoon dat sanksies van die Verenigde Nasies (VN) en resolusies wat deur die veiligheidsraad van die VN teen Noord-Korea aanvaar is, nougeset deur alle lidlande van die VN nagekom moet word.

“Die doel met die nakoming van die resolusies en sanksies is om Noord-Korea sover te kry om met die internasionale gemeenskap in gesprek te tree. Tot nou toe het hulle verseg. 'n Diplomatieke oplossing is noodsaaklik om die spanning te verminder.”

Sakamoto het daarop gewys dat die VN sedert 2006 verskeie sanksies en resolusies teen Noord-Korea in werking gestel het.

Waar lidlande van die VN dit egter verontagsaam, verswak dit die internasionale gemeenskap se posisie om druk op Noord-Korea te plaas om na die onderhandelingstafel terug te keer.

Sakamoto sê een van die grootste probleme wat Japan met die mees onlangse Noord-Koreaanse missieltoets ondervind, is dat dit in 'n gebied van die Stille Oseaan geval het wat bekend is vir besige skeepsroetes.

Geen vooraf waarskuwing is ontvang nie.

“Daar is ook tegnologiese uitdagings om binne 'n breukdeel van 'n sekonde te reageer wanneer 'n ­ballistiese missiel afgevuur word,” het hy gesê.

Die Amerikaanse weermag het gister 'n mediumafstand ballistiese missiel-teiken naby die kus van Hawaii afgeskiet in 'n geslaagde toets van 'n missiel-onderskeppingstelsel waarmee Japan hoop om sy verdediging teen Noord-Korea te versterk.

Die toets kom 'n dag nadat Noord-Korea 'n ballistiese missiel oor Japan afgevuur het.

Noord-Korea se leier het meer missielvlugte oor Japan belowe en hou vol sy kernbewapende land se ­uittartende gedrag was slegs die voorspel.

Die VN en Amerika het Pjongjang se optrede skerp veroordeel en gewaarsku oor “ernstige reperkussies”.

- Bykomende inligting: Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!