Ambisie en harde werk laat hom drome bewaarheid
André het sy beroepslewe as apteker in Windhoek begin nadat hy aan die Potchefstroomse Universiteit gekwalifiseer het. Ná jare se “pille tel” het hy egter sy apteke verkoop en voltyds tot die lugvaartbedryf toegetree waar hy as vlieënier en bedryfshoof in sy eie maatskappy gestaan het. Die behoefte om te boer was egter altyd daar en vanaf 1987 kon hy deeltyds op sy eerste plaas, Omaha, boer.
“In 2002 het ek Elizenore naby Hochfeld gekoop en kon in 2005 op my 45ste verjaardag as voltydse boer daar wakker word,” onthou hy. Dit was vir hom die verwesenliking van ‘n lewensideaal maar die begin van nóg harder werk.
Toe hy Ghaub in 2007 ongesiens gekoop het omdat dit na ‘n goeie transaksie geklink het, was hy uitsluitlik ‘n beesboer. “Die plek het my egter oorrompel en ná twee jaar se geworstel het ek besluit om alles by Okahandja te verkoop en hier met ‘n nuwe uitdaging te begin.”
Van mielies verbou het André toe niks geweet nie, maar danksy raad en hulp van medeboere en kunsmis-, saad- en spuitstofmaatskappye en inligting vanaf die internet en boeredae kon hy met vertroue voortgaan.
André glo aan diversifikasie met bedrywe wat mekaar aanvul. “Die regte sinergie in boerdery werk soos heterose: die resultaat raak groter as die somtotaal van die komponente,” sê hy en verduidelik dat sy boerdery uit drie primêre aktiwiteite bestaan: beesboerdery, toerisme en trofeejag, en akkerbou.
Hy besit ‘n Brahmaanstoet met 150 koeie en teel die tipe bulle waarna hy in sy eie kommersiële kudde soek. Dié bemark hy vanaf Junie tot Oktober op veilings en uit die hand. Sy kommersiële Simmentaler/Brahmaan-koeikudde is tans 600 koeie sterk en word op sy eie en huurgrond gehou. Tollies word in bergkampe en op huurgrond tot 10-12 maande ouderdom uitgegroei en dan voerkraal toe gebring. Die verse wat hy nie as vervangingsdiere wil hou nie, word as dragtige diere op twee tot twee en ‘n half jarige ouderdom bemark. Hy produseer sy eie slagosse en gee hulle voerkraalafronding op kuilvoer (wat hy onder spilpunt verbou) met ‘n graan, akkerboon en voersorghum aanvulling.
Guestfarm Ghaub word as 22 bed gastehuis bedryf wat op die operateursmark konsentreer. Daar is ook kampplekke en grotbesoeke word as aktiwiteit aangebied. Jag is uitgekontrakteer en slegs ses jagtogte word per jaar toegelaat, waarvan alle vleis deur die gastehuis benut word.
Mielies word onder besproeiing en op droëland geplant, sowel as akkerbone en voersorghum. Die droëlandmielies word hoofsaaklik vir graanproduksie en lewering aan Namib Meulens geplant, met die res alles vir voer vir stoetvee-afronding, koeie wat by die huis kalf en die voerkraal.
André het met 132 ha bestaande landerye begin. Verlede jaar het hy 500 hektaar geplant, maar vanjaar slegs 200 hektaar mielies en 60 hektaar sorghum (droëland) weens verlede jaar se misoes. Die droëland mielie-opbrengste op Ghaub het die laaste vier jaar van 4,11 ton in 2010 tot 4,4 ton in 2011 en 5,37 ton in 2012 toegeneem. Verlede jaar het hy 850 kg/hektaar gestroop op een land en toe bees in die res van die landerye ingejaag.
Hy skryf sy sukses toe aan die feit dat Ghaub gewoonlik goeie reën kry, maar steun ook swaar op bestuursinsette soos skoon lande voordat hy plant, 90 cm rye met ‘n goeie plantestand, grondklassifikasie en -analise met doelgerigte, voldoende kunsmistoediening en gesonde mielies.
Daar is veral vier beginsels van boerdery wat hy glo hom help om sy doelwitte te bereik, waarvan finansiële beplanning en bestuur baie belangrik is. “Dit is ‘n kapitaal-intensiewe, hoë-risiko besigheid,” sê hy. “Ek bestee elke dag ‘n uur in die kantoor voor my dag begin en minstens nog twee ure gedurende die dag of in die aand. Ek begroot my kontantvloei, monitor my inkomstes/uitgawes teen begroting en sien vroegtydig as dinge skeefloop.”
Tweedens glo hy aan diversifikasie as risiko-verskansing, derdens aan waardetoevoeging om opbrengste te optimaliseer en laastens in effektiwiteit in alles wat hy doen. “Soek jou eie nismarkte,” is sy raad. “Bedien hulle volgens hul behoeftes en raak ‘n prysbepaler en nie meer ‘n prysnemer nie.
Hy doen bogenoemde deur die regte trekkers, implemente en praktyke te gebruik, soos om kunsmis per tapkar toe te dien, plantermonitors geïnstalleer te hê en sy stroopproses uit te kontrakteer sodat ‘n moderne, effektiewe selfaangedrewe stroper die werk doen. Daarbenewens het hy sonkragstelsels by die huis en gastehuis laat installeer en besproei hy nou slegs bedags teen absoluut geen koste nie.
Oor sy ideale vir die toekoms praat hy kort en bondig.
Hy wil ‘n derde spilpunt oprig om dan 56 hektaar onder besproeiing te hê, ‘n eie graansilo oprig om die kapasiteit te skep om meer graan self te benut om waarde tot bees en skaap te kan toevoeg, 1 300 hektaar lande onder droëlandproduksie hê, met 1 000 hektaar onder mielies en 300 hektaar onder wisselbougewasse vir eie voerproduksie. Hy wil ook heelwat meer ontbos en weiding skep, beide natuurlike grasweidings sowel as aangeplante weiding.
Al beskou hy hom nog as ‘n “nat agter die ore” boer, is hy terdeë bewus van die uitdagings wat gedurig oor ‘n boer se pad kom. “Verlede jaar was dit die droogte, nou kom daar ‘n heel ander probleem oor ons pad,” voel hy oor politieke geluide oor inmenging deur voorgestelde bemarkingstruktuurveranderinge wat ons onder groot druk kan plaas.
“Boerdery in Namibië bly ‘n riskante, kapitaal-intensiewe maar uiters noodsaaklike bedryf,” sê hy. Kommersiële boerdery se bydrae as werkgewer, valutaverdiener, verskaffer van voedselsekuriteit en as ekonomiese lewensaar vir so ‘n groot deel van ons bevolking is onvervangbaar. Droëland akkerbou is veel meer riskant as enige ander boerderyvertakking, met immer-stygende insetkostes, onbeheerbare risiko’s en ‘n totale gebrek aan enige vorm van regeringsteun.”
Hy glo dat akkerbou sonder skaalekonomie op kommersiële skaal doodgebore is, daarom maak hy elke werksdag van sy lewe nuwe lande oop. “‘n Mielieland kos die minimum van N$25 000 per hektaar om gereed te kry vir die eerste aanplantings, N$2,5 miljoen vir ‘n 100 hektaar land. Voeg daarby die koste van die nodige implemente en trekkers en dit raak gou duidelik dat enige groei in die akkerboubedryf in Namibië groot kapitaal benodig. Daarvoor het ons banke nodig en het ons banke sekuriteit nodig. Enige getorring aan grondwaardes, soos ons nou sien, gaan akkerbouers se vermoë om finansiering te bekom, ernstig benadeel. Indien ons regering voedselsekerheid wil hê, kan ons dit vir hulle gee, maar dan soek ons stabiliteit en sekerheid op ons plase en in ons bedryf.”
Boere kon oor die afgelope dekade staande bly en uitbrei as gevolg van stygende grondpryse, wat voortdurend nuwe ekwiteit geskep en sodoende uitbreiding en ontwikkeling moontlik gemaak het. “Verander egter die situasie en neem van die bestaande ekwiteit in landbougrond weg, gaan dit ons met ‘n gewaarborgde katastrofe laat,” sê hy. “Die boerderygemeenskap, agri-besighede en die banke sal gesamentlik en hard moet veg vir die behoud van grondwaardes, sekuriteit van grondeienaarskap en ‘n ware, regverdige vryemarkstelsel in elke aspek van landbousake. Indien ons dit nie regkry nie, sal die droogte van 2013 na ‘n piekniek lyk teenoor die toekoms.”
André glo sy ideale is haalbaar, maar besef ook dat hy nie droogtes, peste en plae, lang afstande en hoë insetkostes, regeringsbesluite en al die dinge waaroor daar nie beheer is nie, weg of reg kan bid nie. “God het hierdie land geskape waar en hoe dit is, met hierdie klimaat en omstandighede. As jy hier wil boer moet jy dit aanvaar.” Boere kan egter met veel groter effektiwiteit boer as ooit in die verlede met tegnologie, inligting en kommunikasie wat nou op vlakke is waarvan daar in die verlede nie eens gedroom is nie.
“Ek gaan voluit boer om my doelwitte in my boerdery te bereik,” was sy afskeidswoorde, waarna hy die Akkerbouraad en veral die span wat vir hom werk, sy pa en sy vrou wat hom getrou bystaan, bedank het vir hul bydrae tot sy sukses.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie