Amerikaanse wedloop beloof vele verrassings
'n Mens moet baie versigtig wees vir voorspellings, want voor die verkiesing in November 2020 in Amerika kan enigiets nog gebeur.
Leopold Scholtz - 'n Taamlike teenstrydigheid speel hom tans in die Amerikaanse politiek af.
Enersyds is pres. Donald Trump, gesien die gesonde groei wat die land se ekonomie beleef, verstommend ongewild.
Luidens die gemiddelde van alle peilings wat gereeld op die webwerf RealClearPolitics gepubliseer word, vind net 44% van die kiesers dat hy sy werk goed doen, teenoor die 52,4% wat sy werk afkeur. Verskeie waarnemers skryf dit toe aan Trump se optrede as onbeskofte boelie, wat baie mense in beginsel afskrik.
Jy sou dus sê die Demokrate sal gretig wees om dié kwesbare president te pak. Pleks daarvan gaan al die Demokratiese energie tans in verbitterde onderlinge bekgevegte.
Altesame 23 Demokrate wil dié party se kandidaat in volgende jaar se verkiesing wees. Hulle het mekaar onlangs in twee televisiedebatte gepak, en die vonke het behoorlik gespat.
Die grootste botsing was tussen die gematigde Joe Biden, wat as vise-president onder Barack Obama gedien het, en die vurige sen. Kamala Harris van Kalifornië. Harris het Biden aangeval oor die feit dat hy in die 1970's die stelsel van “busing” (waarvolgens kinders verplig na skole elders in die stad vervoer is om rasse-integrasie te bevorder) nie ongekwalifiseerd gesteun het nie.
Ongelukkig vir Biden is hy heeltemal onkant betrap deur dié aanval uit 'n hoek waar hy dit nie verwag het nie. Sy verweer was onseker en het min mense oortuig. Die politiek is 'n klipharde besigheid. Harris, 'n voormalige staatsaanklaer, weet hoe om mense in die openbaar te ontsenu, en sy het dit met oorgawe gedoen.
PEILINGS
Uit die Biden-kamp kan nou gehoor word dat Harris uit haar eie perspektief takties goed gedoen het, maar dat sy die kans om Trump by die stembus te verslaan, beskadig het – en dit nogal met behulp van Biden se vermeende sondes van dekades gelede.
Daar kan geen twyfel wees dat Biden skade gely het nie. Peilings wys dat sy steun onder Demokrate sterk gedaal en dat Harris s'n aansienlik gestyg het.
Uiteindelik, as 'n mens die saak breër bekyk, wie is die beste in staat om Trump by die stembus te verslaan?
Verreweg die meeste kiesers, soos altyd maar in volwasse demokrasieë, drom in die politieke middel saam, maar deur haar aanval het Harris haarself nou links geposisioneer.
'n Mens moet baie versigtig wees vir voorspellings, want voor November 2020 kan enigiets nog gebeur. Maar dis moeilik om te sien hoe 'n uitgesproke linkse Harris (of die linkse senatore Bernie Sanders of Elizabeth Warren) ooit 'n meerderheid agter hulle kan monster. Ook Obama moes homself as stewig in die middel posisioneer om verkies te word.
Maar goed, dis 'n kwessie van aanstap, rooies, die pad is nog lank en swaar. Die wedloop kan nog baie verrassings oplewer. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie