Apple beleef sy swakste Kersfees in twintig jaar
Apple het Woensdag vir die eerste keer in byna twee dekades sy vooruitsig vir inkomstegroei verlaag.
Hanlie Stadler - Die moeilikste jaar nóg lê dalk voor vir Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, sedert hy in 2011 die leisels by die tegnologiereus oorgeneem het.
Apple het Woensdag laat Suid-Afrikaanse tyd vir die eerste keer in byna twee dekades sy vooruitsig vir inkomstegroei verlaag.
As rede sê die tegnologiereus dat minder mense as wat verwag is, het na die nuutste iPhones opgegradeer, die verlangsaming in China se ekonomie het verkope beïnvloed, en boonop ondervind hy probleme met die verskaffing van nuwer modelle van die Apple Watch, iPad Pro en AirPods.
Cook het aangekondig die maatskappy verwag nou verkope van sowat $84 miljard in die kwartaal tot einde Desember – tussen 6% en 10% laer as die verkope van tussen $89 miljard en $93 miljard wat vroeër vir dié kwartaal verwag is.
In 2017 se vierde kwartaal – wat die eerste kwartaal van Apple se boekjaar is – het Apple $88,3 miljard se verkope behaal. Die verwagting is dus dat die verkope 4,9% laer as 'n jaar gelede gaan wees.
Dis die kwartaal wat Swart Vrydag en Kersfees insluit en gewoonlik een van die beste kwartale vir enige selfoonmaatskappy is. Dis ook die kwartaal wat begin net nadat Apple sy nuwe modelle in September, waaronder die iPhone XS en XS Max, uitgereik het.
Cook het die aankondiging in 'n buitengewone brief aan beleggers gemaak. Dit is ná die sluiting van die Nasdaq in New York gedoen. Hoewel Apple die dag effens hoër gesluit het, het verhandeling ná die sluiting van die beurs die aandeel met tot 8,5% laat daal.
Cook sê ook selfoonmaatskappye subsidieer nie meer slimfoonpryse nie en mense verkies om eerder hul foon se battery te vervang as om op te gradeer.
Die daling in iPhone-verkope is nie uniek aan Apple nie. Die navorsingsfirma IDC raam dat wêreldwye verkope van slimfone in 2018 – soos in 2017 – effens gedaal het. Apple kon danksy sy hoë pryse tot dusver nog inkomstegroei behaal.
Apple se nuutste fone kos in die VSA tot $1 000 kontant en ontleders bespiegel dat Apple nou 'n pryspunt bereik het waar mense net nie meer voel hulle kry waarde vir daardie enorme bedrag nie. In Suid-Afrika kos die goedkoopste nuwe model, die XR, minstens R16 500 en die XS Max draai by R32 000.
Amerikaners hou nou gemiddeld drie jaar hul slimfoon, pleks van twee jaar, soos in 2014, volgens die konsultantefirma Chetan Sharma.
Apple verdien nagenoeg twee-derdes van sy inkomste uit iPhone-verkope.
Cook skryf in die brief: “Hoewel ons van die uitdagings in belangrike ontluikende markte verwag het, het ons nie die skaal van die ekonomiese verlangsaming, veral in die Groter China, voorsien nie.”
China en ander ontluikende markte is grootliks vir die verwagte daling in verkope verantwoordelik. Ontwikkelde lande vaar egter ook nie waffers nie.
Verskeie van Apple se groot verskaffers het die afgelope maande hul verwagting vir inkomste verlaag, wat reeds daarop gedui het dat dinge nie so waffers met Apple se verkope gaan nie.
Apple het in November aangekondig hy gaan nie meer sê hoeveel iPhones, iPads of Macs hy verkoop nie. Dit het beleggers reeds aan die gis gehad oor swakker verkope.
Apple se aandeelprys het sedert Oktober se hoogste vlak met 32% geval.
Cook blameer ook die handelsoorlog tussen China en die VSA vir die verlangsaming van verkope in China.
Dit sal pres. Donald Trump dalk in sy graanvlokkies laat stik omdat dit neerkom op kritiek van die VSA se tweede grootste maatskappy (Microsoft het Apple in 2018 verbygesteek as grootste maatskappy volgens markwaarde).
'n Afvaardiging van die Trump-regering, onder wie twee adjunkministers, besoek Beijing volgende week om 'n ooreenkoms oor handelstariewe te probeer beding.
Aan die positiewe kant noem Cook dat verkope van die iPad en dienste (wat onder meer Apple Pay en Apple Music insluit) het vergeleke met dieselfde kwartaal in 2017 saam met 19% gestyg.
Apple het die afgelope jare heelwat markaandeel afgestaan aan selfoonvervaardigers soos Samsung en Huawei.
Cook sal Apple se personeel Donderdag oor die situasie toespreek en hul vrae beantwoord.
Hy het in 2011 as uitvoerende hoof oorgeneem by een van Apple se stigters, die legendariese Steve Jobs, wat ook in dié jaar dood is.
In die agt jaar het die aandeelprys met 194% gestyg en die maatskappy se inkomste het meer as verdubbel. Kritiek op Cook was dat Apple nie regtig grondverskuiwende nuwe produkte bekend stel nie – selfs sy iPhone-opgraderings behels net enkele veranderinge.
Cook het wel die Apple Watch en AirPods bekend gestel.
Ontleders verwag onder meer dat Apple iPhone-pryse sal verlaag om markaandeel te probeer herwin.
Ontleders kritiseer Apple nou omdat hy tot so onlangs as Desember optimisties was, terwyl hy reeds van dalende verkope bewus moes gewees het.
Cook het ook volgehou dat hy glo die handelspanning tussen die VSA en China sal vriendskaplik opgelos word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie