Apteke sluit, personeel afgedank
Apteke sluit, personeel afgedank

Apteke sluit, personeel afgedank

Verskeie apteke in Namibië moes óf hul deure sluit óf van hul personeel ontslae raak.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Apteke moes hul deure sluit, werknemers is noodgedwonge afgedank en veral pasiënte met chroniese siektetoestande se lewe kan weens 'n gebrek aan medikasie in gevaar gestel word.
Volgens die president van die Aptekersvereniging van Namibië (PSN) moes reeds agt apteke in die land noodgedwonge hul deure sluit as 'n uitvloeisel van die wan- of laatbetaling van eise aan die staat se mediese fonds (Psemas).
“Ons is bewus van ten minste agt apteke wat óf hul deure moes sluit óf op die mark gesit is met geen potensiële moontlike kopers in sig nie omdat die risiko net te groot is. Jong beroepslui aan die begin van hul loopbane is in skuld gedompel en kan nie hul studentelenings terugbetaal of vir hul families sorg nie,” sê mnr. Benjamin Khumalo.
Apteke dryf handel met goedere wat aangekoop is - in die meeste gevalle op skuld.
“Apteke wat die slegste daaraan toe is, is dié wie se grootste kliënte staatsamptenare is. Jy koop voorraad op skuld.
“Word jy nie betaal nie, kan jy nie jou verskaffers betaal nie, wat op hul beurt weier om verdere voorraad te verskaf totdat jy betaal of wat jou selfs vir skuld hof toe sleep.”
Khumalo sê voorts baie apteke het weens wanbetaling hul kredietfasiliteite by verskaffers verloor.
“Dit is veral by apteke met jong beroepslui wat net 'n tipe proeftydperk as besigheid gehad het. Dié rekeninge­ is altyd eerste om gesluit te word met die eerste tekens dat dit nie betaal kan word nie.”
Volgens Khumalo is daar verskeie apteke wat van hul personeel moes laat gaan en nie in staat is om nuwe voorrade aan te skaf nie.
“Pasiënte moet nou sukkel om hul medikasie in die hande te kry, veral dié met chroniese toestande soos hoë bloeddruk, MIV en diabetes.”
Volgens Khumalo beteken die gebrek aan inkomste en uitbetaling van Psemas-eise van krediteure dat belasting, salarisse en huur nie betaal kan word nie.
“Die hartseer werklikheid is jy kan nie jou personeel saamvat as jy nuwe werk gaan soek nie; vir ons beteken dit meer werkloosheid.”
Veral apteke op die platteland loop deur waar die meerderheid reeds baie gesondheidsuitdagings in die gesig staar.
“In dié gevalle is dit staatsamptenare soos die polisie, weermag, verpleegsters en onderwysers wat nou nie toegang tot gesondheidsdienste het nie.”
Volgens Khumalo is die impak van die Psemas-debakel op die aptekersbedryf “geweldig”.
“'n Gemiddelde apteek neem agt tot tien mense in diens, wat op hul beurt vir hul families en gesinne sorg.
“Gesondheidslui het die opsie om elders werk te gaan soek, met 'n paar wat reeds Namibië vir Suid-Afrika en ander lande verlaat het. Dit is egter dié wat minder bevoorreg is wat deur dokters en aptekers in diens geneem word en wat nie oor 'n kwalifikasie beskik nie, wat die meeste geraak word.”
Met verwysing na gesondheidslui wat Psemas misbruik, sê Khumalo daar is wel dié wat hulle hieraan skuldig maak, maar dat dit 'n klein aantal kollegas is.
“Ons ondersteun die minister ten volle dat daar wigte en teenwigte moet wees.”
Khumalo het PSN-lede aangemoedig om nie Psemas-pasiënte weg te wys nie.
Hy het voorts gesê die PSN is tevrede met die inklusiwiteit en deursigtigheid in die opstel van 'n nuwe kontrak tussen Psemas en mediese diensver­skaffers.
“Elke professie moet insae hê, die belangrikste bly egter die pasiënt.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!