Arbeidsonrus smeul by August 26
Arbeidsonrus smeul by August 26

Arbeidsonrus smeul by August 26

Die uitvoerende hoof van ’n maatskappy wat aan die Namibiese weermag behoort, sê dié instelling kan nie gered word nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Storm broei tans tussen werknemers van ’n maatskappy wat aan die Namibiese weermag (NDF) behoort en die bestuur van dié maatskappy.

Lt.kol. Petrus Shilumbu, die weermag se woordvoerder, het alle navrae na August 26 se uitvoerende hoof, kol. George Kaxuxuena, verwys.

Soos sake tans staan, moet August 26 maandeliks N$1 miljoen vir ’n filiaal se salarisse opdok, terwyl dié besigheid geen geld maak nie, sê die Kaxuxuena, oor hoekom hul tekstielfiliaal sy deure moet sluit. “Die maatskappy het nie geld nie en het nog nooit geld gehad nie. Hulle is diep in die skuld.”

Hy het gister by navraag aan Republikein gesê die houermaatskappy se raad en dié van die filiaal het reeds in November die besluit geneem dat dit nie lewensvatbaar is om met die tekstielonderneming se sakebedrywighede voort te gaan nie.

Kaxuxuena het toegegee die nagenoeg 82 werknemers by die sukkelende tekstielonderneming sien rooi oor die wending.

Maar, voer hy aan, die Namibiese Voedsel en Verwante Werkersunie (Nafau) stook die werknemers op om nie te vinde te wees om elders by die ander nege filiale van August 26 herontplooi te word nie.

Nafau beweer volgens berigte op die nasionale uitsaaier (NBC) dat die werknemers op straat sal beland wanneer die tekstielonderneming aanstaande maand sluit.

Kaxuxuena ontken dit.

“Die maatkappy het nie geld nie. Dit gaan nie bly voortbestaan nie, omdat geen geld tot hul beskikking is nie,” het hy gister gesê.

Al 82 werknemers het die opsie om elders by die houermaatskappy te werk.

Sou hulle nie daartoe instem nie, is daar niks wat August 26 kan doen nie, sê die uitvoerende hoof.

“Dit sal nie ons verantwoordelikheid wees nie.”

Volgens hom het hulle besluit 28 Februarie sal die laaste dag vir die tekstielonderneming se sakebedrywighede wees.

Iemand wat met die afleggings en herontplooiings gemoeid is, het die afgelope week gesê die herstrukturing sal goedkoper wees as dít wat die maatkappy tans aan salarisse bestee.

Kaxuxuena sê hulle sal afleggings volgens arbeidswetgewing behartig.

Hy het erken die mense sal elders onder “ander bepalings en voorwaardes” aangestel word.

Dít sal ook hul salarisse raak, het hy bevestig.

“Beslis, maar ons probeer om hulle van die strate te red.”

Ofskoon hulle en Nafau die werkers se belange op die hart dra, sing die partye verskillende gesange, sê Kaxuxuena. “Daar is baie opstokery aan Nafau se kant,” beweer hy.

Naas die salarisse van N$1 miljoen maandeliks moet hulle nog vir ander bedryfsuitgawes ook pa staan, sê Kaxuxuena.

Die ander filiale dra die tekstielonderneming tans.

“Ons is nie veronderstel om onsself uit ons bestaan te dryf nie.”

Pogings om mnr. Absalom Willem, Nafau se adjunkhoofsekretaris, gister telefonies op te spoor, was teen druktyd onsuksesvol.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!