As die gloed jou vat
As die gloed jou vat

As die gloed jou vat

Henriette Lamprecht
Liewe Gerda,

Julle is darem maar stil in die Huisgenoot die laaste tyd, is Charlize weer besig met ’n fliek? Moet jy die kinders oppas as sy so weggaan, hulle is seker maar ’n handvol. Hier by ons is dit net tienerhormone en oorgang. Is jy ook nou in jou “jare”, ons is mos dieselfde ouderdom.

Tussen my en jou en dis nou nie vir ander se ore nie, maar Klaradyn se stiefpa het nou maar vir hom die bed in die spaarkamer laat opmaak. Dis net as die gloed my gryp, dan moet die komberse en die duvet af. Gewoonlik ook te laat, want dan is alles om my en oor my klaar nat. Het ek net myself genoeg gelawe met ’n nat lap wat ek in ’n skotteltjie op die bedkassie hou, dan is dit weer koue en moet die komberse weer terug. Klaradyn se stiefpa het ook uiteindelik die mat uit die kamer laat haal.

My buurvrou het gesê daar’s niks wat haar so gou laat afkoel soos ’n warm voet op ’n koue teël nie. Sy sê sy bly baie keer sommer net so daar lê. Haar man is so dierbaar, hy gooi darem vir haar ’n kussing en ’n kombers af dat sy nie te ongemaklik is nie, dit kan ’n lang storie raak, die lêery op die teëls.

Kan jy glo Klaradyn en Marnus dring toe skielik ook op ’n familievergadering aan. Gedog Marnus het weer moeilikheid by die skool gemaak, maar nee. Dié keer was dit toe nou ek en my “halfkaallopery” wat hulle en vir Asjassie, ons reggemaakte hondjie, glo ontstel. Weet nie vir wat hulle nou vir Asjassie by alles wil insleep nie, as daar nou een is wat my lyding verstaan, is dit sy. Asjassie is mos ook ’n “sportsmodel”.

Mens sou dink Klaradyn se stiefpa sal vir my opkom, maar niks, nie ’n woord van ondersteuning vir sy vrou wat so moet tap van die sweet nie. Tussen my en jou, dis toe wat ek sommer self sy boksershorts en kartydskrifte spaarkamer toe dra!

Ek sweet vir my uit my perm uit, my haarkapper sê ek moet nou maar eerder vir ’n boy’s cut gaan, kort en reguit en skip maar die kuif. My buurvrou op die teëls se ander raad was om ysblokkies in die bra te bêre. Tweede keer wat daar nie vir Klaradyn se stiefpa ys vir sy night cap was nie, toe is dit ook koebaai meraai. Jy weet, soos Noordoewer-ys op ’n Krimisoggend se piekniek langs die rivier.

Marnus het vir my so ’n bont plastiekwaaiertjie by China Town gekry, een wat met batterye werk. Dié het ook net ’n dag of wat gewaai en toe is die Chinese batterye pap. Ek het darem my Huisgenoot-waaiertjie wat ons so paar jaar terug gekoop het toe ons op Oudtshoorn vir die KKNK was.

Ek moet vertel van Fonteine, ek het mos laas geskryf sy het ’n make over by Hannon gehad. Ons het mos gehoop dié dat Fonteine darem nou so is dat jy haar kan saamvat Spur toe, los haar man die geboordery op see en soek ’n werk op Tsumeb by haar en die orrelpypies.

En daar los Fonteine toe nou nie net die perms en die blue eyeshadow nie, maar haar man ook. Stuur hom summier terug boor toe. Haar ma het nou haar hande vol met die orrelpypies met dié dat Fonteine nou weer date. Marnus het vir haar ’n advertensie vir Boeremeisie.com geskryf en ’n foto van haar onder die Flamboyant-boom geneem en saamgestuur.

Boeremeisie is soos die Landbouweekblad se opsitkers en volgens Marnus kry die meisies hier baie hits. Ek sidder om te dink wat beteken hits. Fonteine se ma het vir my haar stukkie vir Boeremeisie ge-WhatsApp, haar skuilnaam is Suidwes-parakiet.

“Eks n baie vriendelike mysie met goeie waardes en beginsels. eks n baie positiewe mens. Eks ook n groot familie mens en spandeer graag tyd saam familie en vriende! Ek meng met almal, kan selfs braai, maar hou daarvan om my ander helfde te sien braai. Eks nie n club mysie nie spandeer eerder n vrydag of saterdag aand om n braaivleis vuurjie. Hou baie van musiek en sing graag. Altyd game vir n roadtrip”

Ek voel ’n gloed.

Groete

Klaradyn se ma

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!