Basterkaptein ‘het gemeenskap gedien’
’n Hoëvlak-regeringsafvaardiging het die afgelope week die weduwee en gesin van die ontslape Rehoboth-leier besoek.
Denver Kisting op Rehoboth – Tydens ’n besoek aan die huis van die ontslape Basterkaptein het die visepresident Nangolo Mbumba gesê dié leier “het die gemeenskap gedien”.
Mnr. John McNab (82) is Saterdagaand by sy huis op Rehoboth dood.
Mbumba het namens die Namibiese regering hulde gebring aan McNab en die regering se medelye aan me. Theckla McNab, die oorlede kaptein se vier kinders en familie en vriende oorgedra.
Hy is vergesel deur die goewerneur van die Hardapstreek, eerw. Salomon April, en die burgemeester van Rehoboth, me. Christina Blaauw.
Die visepresident wou in ’n kort onderhoud buite McNab se huis nie praat oor die moeilike pad wat die Bastergemeenskap en die regering gestap het in dié gemeenskap se stryd om erkenning nie.
“Vandag is nie ’n saak van moeilikheid nie. Ons is net hier om ons medelye oor te dra – aan die familie en aan die gemeenskap – namens die plaaslike, streek- en nasionale regering.”
Volgens Mbumba onthou hy vir wyle McNab as ’n stil man, maar een wat ’n verskil gemaak het.
‘FONTEIN VAN WYSHEID’
Die speaker, prof. Peter Katjavivi, het ook in ’n verklaring hulde gebring aan McNab, “wat die Bastergemeenskap vir meer as 20 jaar na die beste van sy vermoë gedien het. Hy was ook ’n fontein van wysheid, ’n onderwyser, ’n navorser en ’n toegewyde gemeenskapsleier.”
Die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het vroeër vandeesweek gesê wyle McNab “was ’n gebore leier wat met uiterste passie en toewyding gedien het”.
Hy sê McNab het nie doekies omgedraai nie.
Venaani het voorts sy misnoeë te kenne gegee dat McNab nooit die erkenning gekry het wat hom toegekom het nie.
“Dit is verskriklik dat hierdie groot leier nie die nasionale erkenning gekry het vir sy patriotiese werk nie, terwyl hy ’n sleutelkiesdistrik van inheemse Namibiërs gelei het.”
McNab word môre op Rehoboth begrawe. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie