• Tuisblad
  • Sport
  • Beatrice behaal wêreldklas tye teen Afrika-seniors

Beatrice behaal wêreldklas tye teen Afrika-seniors

Atletiek
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Twee briljante wentye en goue medaljes deur die 16-jarige naelloop-sensasie Beatrice Masilingi was die hoogtepunt vir Namibië by die senior Suidelike Afrika senior byeenkoms van die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) in Mauritius.

Tesame met 'n bronsmedalje deur die ewe jong middelafstandatleet Christine Mboma in die 800 het Namibië se klein spannetjie van vier juniors in die algehele vierde posisie klaargemaak uit die elf lande wat in die senior kompetisie meegeding het.

Masilingi het Vrydag die 400 meter se finaal in 53.73 sekondes gewen, met daglig tussen haar, die tweede geplaaste Tlhompang Basele van Bo­tswana (56.73) en die res.

Haar uitdun was skaars twee ure tevore, toe sy ook gemaklik in 54.57 sekondes eerste oor die eindstreep gehardloop het. Die kort tydsbestek vir herstel het die kanse dus verminder dat sy naby sou kom aan haar indrukwekkende persoonlike beste in die 400, toe sy vroeër vanjaar in eSwatini die Cossasa-goud met 'n nuwe streekrekord van 53.09 sekondes ingepalm het.

Masilingi se goue medalje Saterdag in die 200 meter was in 'n indrukwekkende tyd van 23.85 sekondes – 'n gerieflike voorsprong bo die twee Botswana-naellopers Tsone Sebele (tweede in 24.13) en Refilwe Murangi (25.17).

Die finaal om twaalfuur die middag was nadat Masilingi reeds in haar uitdun om 10:25 selfs vinniger in 'n nuwe persoonlike beste van 23.76 sekondes gewen het.

Mboma het in haar 800 meter die derde posisie ingeneem (2:17.38) ná die wenner Oratile Nowe van Bo­tswana (2:08.70).

Karlien Botha was Saterdag vierde in die gewigstoot vir vroue (10.62 meter), waar die goud deur die Suid-Afrikaner Meike Strydom (14.65) verower is.

Ludwig Huber het in die spiesgooi ook 'n vierde plek behaal. Sy beste gooi was 52.44 meter, teenoor die kampioen Fredriech Pretorius van Suid-Afrika se wenafstand van 57.91.

Al vier die Namibiese juniors is verbonde aan Agri Kollege op Grootfontein en is ook deur die skoolhoof, mnr. Henk Botha, as spanbestuurder vergesel.

Masilingi, tevore van Noordgrens Senior Sekondêre Skool, en Mboma (van SS Shinyungwe) is beide graad 9-skoliere wat vroeër vanjaar danksy beurse ter waarde van N$120 000 elk die skuif vanaf Rundu na die privaatskool op Grootfontein gemaak het.

“Beatrice se tye in die 200 en 400 was wêreldklas as 'n mens in ag neem dat sy nog net 16 jaar oud is. Ek is baie trots op haar,” het mnr. Botha gister uit Mauritius aan die koerant laat weet.

“Die kampioenskap was van goeie gehalte en was goed gereël. Ons spannetjie was maar klein te midde van die geldelike beperkings waarin Namibiese sport hom bevind.”

Weldoeners soos Marathon Sugar, Roual Spangenberg, Arnold Huber, Simondeum (Deon van Blerk) en die Grootfontein Medi Health Clinic het grootliks bygedra om die groepie van vyf se toer na Mauritius moontlik te maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!