Beesboerdery 'n hoeksteen
Beesboerdery 'n hoeksteen

Beesboerdery 'n hoeksteen

Vleisraad meen bestaande ekonomiese koek moet uitgebrei word
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit



Die landbou- en bosbousektor het 6,5% – sowat N$11,4 miljard – bygedra tot die bruto binne­landse produk (BBP) van N$176,3 miljard in 2020.

Verdere ontleding het aan die lig gebring dat veeproduksie N$6,3 miljard, of 54,7%, van die BBP uitmaak, die grootste deel uit die vleisbeesbedryf.

Volgens die Vleisraad van Namibië het die kleinveesektor 'n betreurenswaardige en ernstige afname in getalle en winsgewendheid gehad weens die impak van klimaatsverandering en beleidsingrypings.

“Gevolglik bly die beessektor die hoeksteen van plaaslike landbou­produksie.”

Die Vleisraad het verder gesê die ekonomiese voordele tussen noord en suid van die Rooilyn toon groot ongelykhede met aansienlike ver­skille in opbrengste op belegging.

“Dit kan toegeskryf word aan die feit dat beeste noord van die veeartsenykordonheining (VCF) beperkte marktoegang het weens die siektestatus van die gebied.”

Die Vleisraad het 'n studie gedoen oor die lewensvatbaarheid van die uitvoer van vars of verkoelde sowel as bevrore beesvleis na Midde-Oosterse lande soos Koeweit, Saoedi-Arabië, Bahrein, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar, sowel as China.

Die studie het aan die lig gebring dat slagplase redelike winsmarges kan behaal as hulle hierdie markte benut.

“Die Vleisraad en die direktoraat van veeartsenydienste beywer hulle om toegang tot hierdie markte te verkry ten bate van boere noord van die heining.”

Die oortuiging is dat hierdie poging, sodra dit geïmplementeer is, die ekonomiese bemagtiging van beesboere in dié streek sal bevorder.



TOEGANG TOT PREMIEMARKTE

Daarteenoor het die Vleisraad gesê vleisverwerkers suid van die Rooilyn geniet toegang tot premiemarkte en verdien aansienlike marges.

In 2020 is 'n totaal van 12 853 ton beesvleis deur uitvoerabattoirs geproduseer, waarvan 65,5% (8 421 ton) na verskillende bestemmings uitgevoer is.

Dít in vergelyking met 2019, toe 29 158 ton beesvleis deur uitvoerabattoirs geproduseer is, waarvan 91,4% (26 638 ton) uitgevoer is.

Die Vleisraad meen om waardekettinggelykheid te verkry, moet die bestaande ekonomiese koek uitgebrei word om voldoende deurset vir uitvoergeriewe te verseker, en sodoende skaalvoordele vir vleisverwerkers te verseker.

“Die behoud van lewende beeste kan ten beste bereik word deur 'n markgebaseerde prysmeganisme wat veeprodusente mededingend beloon, en die fokus van speenkalf­uitvoere na uitvoerabattoirs ver­skuif.”- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!