Begrotingsbom
Alle oë is op die fiskus om te sien hoeveel miljarde verdediging in die nuwe boekjaar opnuut van die belastingbetaler se geld gaan opslurp.
Jo-Maré Duddy
As die regering se geprojekteerde BBP-syfer in die kol is en daar by beraamde begrotingsplanne gehou word, kan finansminister Calle Schlettwein in 2017-'18 net-net daarin slaag om Namibië van 'n swartlys vir lande met 'n té groot militêre las af te hou.
Namibië bevind homself twee opeenvolgende jare reeds op die Stockholm International Peace Research Institute (Sipri) se lys van lande wat in dié kategorie val. Sipri monitor militêre besteding in 172 lande wêreldwyd.
In hul mees onlangse oorsig, wat aan die einde van 2016 vrygestel is, is Namibië een van net 14 lande uit dié groep met 'n militêre besteding wat 4% of meer van sy bruto binnelandse produk (BBP) beloop. Hoewel daar nie 'n internasionale maatstaf vir 'n té hoë militêre las bestaan nie, sê Sipri 4% van die BBP is die afgelope 20 jaar deurgaans as die statistiese plafon hiervoor gebruik.
Volgens hul 2016-verslag het Namibië se militêre begroting in 2015 sowat 4,4% van sy BBP beloop. Die vorige jaar was dit volgens Sipri-berekeninge 4,1%. Die nuutste begrotingsdokumente van die ministerie van finansies toon die beraamde syfers is selfs hoër: 4,7% in 2015-'16 en 4,6% in 2014-'15.
Terugkeer
Namibië se terugkeer na Sipri se swartlys in 2014 en 2015 was die eerste keer sedert 1991 en 1992. Toe was Namibië se militêre las onderskeidelik 5,6% en 4,3%.
In sy 2015-oorsig het Sipri Namibië uitgesonder as die land met die agtste hoogste styging in militêre besteding sedert 2006. Namibië se militêre besteding in dié tydperk het met 200% gestyg, sê Sipri in die verslag getiteld “Trends in World Military Expenditure 2015”.
Vir dié doeleindes word Sipri se data in Amerikaanse dollar aangedui, met die amptelike wisselkoers wat vir 'n jaar gebruik word. Met die berekening van verhogings word regerings se bestedingsyfers teen konstante 2014-pryse aangedui.
In sy 2014-verslag het Sipri Namibië uitgesonder as een van 20 lande wat 'n té groot militêre las het. Wat Namibië egter volgens Sipri uitsonderlik maak, is die feit dat die land nie in 'n oorlog betrokke is nie.
“Een land, Namibië, staan as 'n funksionerende demokrasie uit wat sedert 1990 nie by gewapende konflik betrokke was nie, maar 'n militêre las van 4,6% het,” sê die vredeswaghond in sy 2014-verslag.
Snoeiskêr
Voorlopige aanduidings is dat Schlettwein in die huidige begrotingsjaar daarin gaan slaag om militêre besteding onder die kerf van 4% te hou.
Selfs vóór hy die verdedigingsbegroting vir 2016-'17 in sy halfjaar-hersiening in Oktober verlede jaar met bykans N$653,8 miljoen tot amper N$5,95 miljard gesny het, was Namibië veilig. Toe sou die militêre las 3,7% gewees het. Volgens die laer hersiende begroting sal Namibië se militêre las vir die huidige boekjaar na verwagting tot 3,3% daal.
Syfers in die bestedingsraamwerk vir die medium termyn (MTEF) van 2016 tot 2019 toon 'n totale verdedigingsbegroting van bykans N$6,89 miljard vir 2017-'18.
Dit is sowat 10% van die regering se totale besteding wat vir die komende boekjaar begroot is. Naas onderwys, finansies en gesondheid sal verdediging die grootste hap uit die begrotingskoek vat.
Bykans N$6,23 miljard van verdediging se totale begroting is vir bedryfsuitgawes opsy gesit, en sowat N$657,9 miljoen is vir die ontwikkelingsbegroting aangewys.
Geheim
Bykans N$349,9 miljoen of 53% van verdediging se begroting vir 2017-'18 is vir “navorsing en ontwikkeling”. Waarvoor dié geld gebruik word, mag die belastingbetaler nie weet nie; dis geklassifiseerde inligting.
Al wat in begrotingsdokumente gesê word, is dit is vir “bedryfstoerusting, masjinerie en aanlegte” bedoel. Die doel van dié projek is om 'n “moderne, goed opgeleide en goed toegeruste verdedigingsmag” daar te stel.
Die totale koste van die projek beloop bykans N$6,7 miljard. Tot 2014-'15 is N$2,35 miljard reeds hieraan bestee. Tot 2018-'19 gaan nóg meer as N$1,3 miljard uitgegee word. Die oorblywende sowat N$3 miljard lê in begrotingsjare daarna vir die belastingbetaler voor.
In verdediging se bedryfsbegroting vir 2017-'18 is ook vir amper N$16 miljoen se “vertroulike” uitgawes voorsiening gemaak.
Leërskare
Verdediging is die staat se tweede grootste werkverskaffer. Met die indiening van die hoofbegroting in Ferbruarie verlede jaar, het dit aan 19 052 mense werk verskaf. Dit is sowat 18,9% van die staat se arbeidsmag van 100 719. Net onderwys, met 37 874 amptenare, het meer werk verskaf.
Verdediging se totale vergoedingspakket vir 2017-'18 word op meer as N$4,18 miljard geraam. Dit is sowat 16,3% van die staat se totale vergoedingsbegroting vir die komende boekjaar, wat op 1 April begin.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie