• Tuisblad
  • Sake
  • Bekende Bolandse ouditfirma in hof oor skuld
Bekende Bolandse ouditfirma in hof oor skuld
Bekende Bolandse ouditfirma in hof oor skuld

Bekende Bolandse ouditfirma in hof oor skuld

Die eienaar van ’n olyfplaas sê die firma kan nie R1,6 miljoen plus rente terugbetaal wat aan die besigheid verskuldig is nie.
Nellie Brand-Jonker – ’n Bekende Bolandse ouditfirma moet eersdaags aan die hooggeregshof in Kaapstad verduidelik hoekom hy nie onder voorlopige likwidasie geplaas moet word weens R1,6 miljoen wat hy aan ’n kliënt skuld nie.

Die hofaansoek teen Louw & Cronje is deur die olyfplaas Kloovenburg Plase, van Riebeek-Kasteel, ingedien.

Die aansoek is Vrydag aangehoor en tot middel November uitgestel.

Louw & Cronje, wat in die hofstukke as ’n gerespekteerde ouditfirma in die Boland beskryf word, het kantore in Porterville, die Strand en Vredenburg en het talle groot ondernemings in die landbousektor in die Wes-Kaap as kliënte.

Pieter du Toit, eienaar van Kloovenburg, sê in ’n eedsverklaring die aansoek is ingedien omdat Louw & Cronje nie R1,6 miljoen plus rente kan terugbetaal wat aan Kloovenburg Plase geskuld word nie.

Volgens hom doen hy al ’n dekade lank sake met die ouditfirma. Louw & Cronje is sy ouditeur en die ouditeur van die ondernemings wat hy beheer of waarin hy ’n belang het.

Volgens Du Toit is hy op 27 Junie 2018 deur Petrus Serdyn (Pierr) Louw (65), ’n senior vennoot van die ouditfirma, gekontak om geld by hom te leen vir ’n “kliënt en vriend wat ’n belastingprobleem het”. Louw het na bewering gesê die geld word aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geskuld. Die identiteit van Louw se kliënt is onbekend aan Du Toit, luidens die hofstukke.

Hy wou R2 miljoen by Du Toit leen. Du Toit het ingestem tot ’n lening van R1,6 miljoen.

Hy sê die lening moes binne ’n maand aan Kloovenburg terugbetaal word, met rente van R80 000.

’n Brief van Louw, op die briefhoof van Louw & Cronje, is by die hofstukke aangeheg waarin die besonderhede van die lening uiteengesit word. Daarin word verwys na ’n “belegging” van R1,6 miljoen wat Du Toit by die firma gemaak het, asook die rente betaalbaar en die datum waarop dit terugbetaal moet word.

“Gegewe die vertrouensverhouding tussen my en die respondent, as ons statutêre ouditeur, het ek die respondent heeltemal vertrou,” lui Du Toit se eedsverklaring.

“Ek het geen rede gehad om die versoek vir die lening, die aard van die lening of die respondent se vermoë om die lening terug te betaal, in twyfel te trek nie.”

Die geld is op 27 Junie in Louw se persoonlike rekening oorbetaal.

Teen 27 Julie het hy navraag gedoen by Louw oor die terugbetaling van die lening. “Hy het talle verskonings gegee oor hoekom die geld nog nie in die applikant se bankrekening gesien kan word nie. Die verskonings het gewissel van die bank wat nie die versoek uitgevoer het om die oorbetaling te doen nie tot kragonderbrekings en mediese prosedures wat hy ondergaan het.

“Die volle uitstaande saldo op die bedrag is nou reeds twee maande agterstallig ondanks Pierr en die respondent se onderneming en beloftes dat reëlings getref is om te betaal.”

Hy het ’n lang lys teksboodskappe van Louw by die hofstukke gevoeg wat Louw se verskonings oor die twee maande dokumenteer.

“Dit lyk op die oog af of Pierr en die respondent die betaling so lank moontlik probeer vertraag omdat hulle eenvoudig nie in staat is om dit te doen nie.”

Louw het blykbaar op 15 September as direkteur van die ouditfirma bedank. Die hofstukke toon hy is in Maart 2007 as direkteur aangestel.

Louw se seun, Henz Louw, ’n direkteur van Louw & Cronje, het by navraag gesê die firma gaan die aansoek teenstaan. “Die beantwoordende eedsverklaring sal Louw & Cronje se posisie duidelik uiteensit. Weens die sensitiwiteit hieromtrent, volstaan ons vir eers met bogenoemde,” het hy per e-pos van Porterville af geantwoord.

Pierr Louw het daarna by navraag beweer hy het klaar die geld terugbetaal, maar nagelaat om te sê wanneer. “Die ding is heel uit verband geruk. Dit het niks met Louw & Cronje te doen nie.”

Volgens Du Toit het hy teen Dinsdag 12:00 nog geen geld ontvang nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!