Bekende oom Lukas Nel groet

Tanja Bause
Tanja Bause – Oom Lukas Nel is Dinsdagaand rustig in sy bed op sy plaas, Ons plaas, buite Tsumeb oorlede. Hy sou op 14 Julie sy 98ste verjaardag gevier het. Sy dogter, me. Janie van Greunen, was by hom.

“Ma is in die hospitaal vir waarneming opgeneem en ek was by Pa. Dit was my beurt vir die aandskof om na hom te kyk. Ek het nog so omstreeks 18:00 sy hande warm gevryf en hom toegemaak. Ek het by hom ingekruip en toe ek om 19:00 wakker word, het ek besef hy is dood. Hy het rustig in sy slaap gegaan,” het sy gesê.

Die kinders het vir tannie Joey uit die hospitaal geneem sodat sy vir oom Lukas by die huis kon groet.

“Ons het besluit sy is al die afgelope paar dae deur genoeg en dat sy nie vir hom in ’n koue onpersoonlike plek sal groet nie. Ons het ma daarna weer terug hospitaal toe geneem. My pa sê al vir die afgelope paar dae hy wil gaan en ons moet hom laat gaan. Ons vermoed dit is wat vir ma die ineenstorting gegee het.”

Oom Lukas laat vyf kinders, tien kleinkinders en agt agterkleinkinders agter.

“Die hoktyd maak alles nou baie moeilik omdat hy familie op Walvisbaai, Hentiesbaai en ook in Suid-Afrika agterlaat wat nie nou kan afskeid neem nie. So daar is nog geen reëlings nie,” het sy gesê.

DIE MAN LUKAS NEL

Oom Lukas was ’n oorlogsveteraan, sportman en boer wat diep spore in die land getrap het.

In 1927 het hy saam met sy pa en twee susters met ’n stoomtrein van De Aar in Suid-Afrika ná Kalkfeld in Namibië gereis. Sy ma was in Pretoria, maar is weens ’n gewas op haar brein in ‘n inrigting opgeneem. Sy het nooit by haar familie aangesluit nie.

Die Nel-familie het op die plaas Oviroroa, wat aan ouma en oupa Nel behoort het, in ’n huis van houtpale met ’n misvloer en sinkplaatdak by die veepos gaan bly.

Sy tante Heila Lafiena het hom op die plaas leer lees en skryf en hy het sy skoolloopbaan op Kalkfeld, Outjo en Swakopmund voltooi.

Ná die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het oom Lukas in 1941 by die Suid-Afrikaanse lugmag aangesluit. Hy is eers as werktuigkundige en later as vlieënier opgelei.

“Ek het meestal in Noord-Afrika diens gedoen, maar was ook ’n paar keer in Europa. Gedurende dié tyd wat ek in die lugmag was, het ek drie noodlandings gedoen,” het hy gedurende ’n onderhoud in 2018 vertel.

Oom Lukas het vyf medaljes van die weermag ontvang vir sy diens gedurende die oorlog, wat van 1939 tot 1945 geduur het.

Hy het later weer by die weermag aangesluit, dié keer op Potchefstroom, waar hy mettertyd tot kommandobevelvoerder bevorder is.

“Ek was 16 jaar die bevelvoerder en my eenheid is as nommer een op die gebied van dissipline en administrasie in Suid-Afrika bekroon,” het hy trots gesê.

“Ek het ook in Namibië my dienspligverpligtinge nagekom en troepe in die Noorde gelei totdat ons in 1989 ons wapens moes teruggee.”

In 1946 het oom Lukas op die plaas Malta begin boer. Hy het ook by die myn op Tsumeb gewerk om geld te verdien om verbeteringe op die plaas aan te bring.

Hy het ‘n vragmotor aangeskaf en onder meer groente, pale en sand vir die myn en ander boere aangery. Hy het later ook ‘n boormasjien gekoop en 110 boorgate geboor.

“Ek het die boorgate self aangewys. Met die geld wat ek verdien het, het ek Malta uitgebrei en in 1973 in ’n wildplaas omskep. Dit was een van die eerste wildplase in die noorde van die land,“ het hy gesê.

Oom Lukas het Malta verkoop en ’n plaas nader aan Tsumeb gekoop wat hy Uitspan genoem het, met die gedagte om daar tot ruste te kom.

“Ek het baie vrugtebome geplant. Ek het die naam ‘mango-koning van Tsumeb’ gekry. Maar ek het ook onder meer koffiebosse, koejawel-, piesang-, avokado-, lietsjie- en naeltjiebome geplant.”

“Ek het Duitsland toe gegaan en na hulle pampoene gekyk. Daar het ek ’n rooierige een gevind waarin ek baie geïnteresseerd was.

Ek het van die sade gekoop en agtergekom dat dié soort pampoen baie goed in ons grond aard. Met trots kan ek sê ek is die skepper van die Lukas Nel-pampoen. Dit is ’n kruising tussen ’n botterskorsie en ’n gansnekpampoen.”

Hy was ook bekend in sportkringe en het in 1947 die eerste rugbyklub op Tsumeb gestig wat die eerste Springbokspeler uit Namibië, Sias Swart, in 1953 opgelewer het.

Op 24 Maart 1951 het oom Lukas met Johanna (Joey) Oppermann in die huwelik getree.

Oom Lukas het ’n kleurvolle en ryk lewe gehad waarvan dele in 15 verskillende boeke opgeteken is. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!