Benoud, maar nog nie koud
Daar is sekere verjaardae wat 'n mens graag sal wil onthou en ook na uitgesien het. Party mense laaik so van verjaar dat hulle jou selfs twee weke voor die tyd daarvan in kennis begin stel. Waarvoor weet ek nie. Vir my is 'n verjaardag net nog 'n dag, maar daar is een wat ek goed onthou.
Soos daai 16de ene waar jy nog nooit 'n soen gehad het nie, maar ook nooit een gemis het nie. Daai besondere 18de en dan die groot 21 waarna 'n mens breëbors hamelstert kon rondloop.
Hoewel dit 37 jaar gelede is, onthou ek my 16de verjaardag soos gister. Ek was die vorige week met my motorfiets in 'n ongeluk betrokke toe 'n bakkie op 'n Vrydagnamiddag besluit het dit is die regte tyd en plek om 'n U-draai voor my te maak. Genadiglik het ek die onderonsie oorleef om 16 met 'n hele paar steke, bloukolle en 'n mank stappie te begroet.
So het die tyd ongesiens aangestap en met jeugdigheid kom voortvarendheid en die lekkerte van grootmens wees wat jy ná jou 21ste beleef.
So beland ek ná vele onderhandelinge in die Kaap en net skielik, woeps-waps, besef ek benoud my 30ste verjaardag is besig om my soos 'n dief in die nag uit die Ooste te bekruip.
Soos ek gesê het, moes ek demokraties verplig aanskou hoe my komende jaarverwisseling van Asië se kant af in aantog was. 'n Doodse vrees het later vlak in my wese kom lê en my gemoed nog swaarder laat weeg. Angssweet, slapelose nagte, bedruktheid en 'n algehele gevoel van nutteloosheid het my beetgepak. Wat aangegaan het, weet ek nie, maar vir my het dit gevoel asof 30 beteken ek is oor die muur. Kapoet, finish, klaar. Ek is net goed genoeg om ou Niek se vuur mee te stook, het ek geredeneer. My vrinne wat my goed ken, het vinnig agtergekom daar is fout en aan my soos 'n steeks donkie gekarring tot ek met die sak patats uitgekom het.
“Ag nee, kom nou, dis nie so erg nie,” het van die manne gesê wat reeds deur die 30ste-verjaardagmeul was. Die ander snare wat jonger was, het glad nie my penarie verstaan nie en heimlik agter hul hande gelag as ek nie gekyk het nie. As dié ouens gedink het hul woorde was salf vir my gebelgde siel, het hulle beslis 'n fout gemaak.
Ek kan glad nie onthou wat daar met my 30ste verjaardag gedoen was nie. Dalk maar die gewone dop-en-tjop-operasie, of ons was weer by Misverstanddam waar die hitte jou sesuur in die oggend uit jou bloedgroep uit brand, terwyl jy sukkel om van die vorige aand se babelas te bestuur.
Wat ek wel ná my 30ste tot vandag toe onthou, is dat niks verander het nie. 'n Paar kapsules en verdagte preparate en salfies vir skete daar van die pillekafee af of 'n kierie was nie skielik deel van my mondering nie. Hups was ek steeds. Net so braaf en hardekwas soos altyd, maar dalk ietwat wyser met net nog 'n dag wat by my jaarmeter gevoeg was.
Op 40 het ek vyf skaapribbes gebraai, 12 bottels Pinotage van Beyerskloof oopgemaak en die hele familie genooi om my tweede 21ste verjaardag te vier. Want so het dit vir my gevoel. Met die halfeeu wat 'n paar jaar gelede sy merk by my kom maak het, was daar ook nie 'n probleem nie. Wat ek wel agtergekom het, is jy voel nog dieselfde as toenterentyd, maar dink, redeneer en opereer anders as toe.
Hulle sê mos met grysheid kom die wysheid en is dit nie waar nie? Dis net daai bleddie 30ste verjaardag wat steeds soos 'n slegte nagmerrie iewers in die verlede soos 'n hersenskim dryf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie