Beseerde toeriste sterk goed aan

Die toerleier van die groep Duitse toeriste wat die naweek in ’n ongeluk betrokke was, het die busbestuurder op Facebook verdedig.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Duitse toeriste en hul toergids wat Saterdag omstreeks 09:30 in ’n busongeluk oos van Rundu beseer is, sterk in die Lady Pohamba Privaat Hospitaal in Windhoek aan en hul toestand is stabiel.

Me. Monika Ihms, bestuurder van die toermaatskappy Africa Focus Tours, wat as ATC Namibia bedryf word, sê sy waak reeds sedert Saterdag langs hul beddens.

Die drie beseerde toeriste en die toergids, me. Anke Kleingunther (61), het op dieselfde dag per ambulansvlug in Windhoek aangekom.

Een van die 14 toerlede het in die ongeluk gesterf. Haar man is een van die beseerde passasiers in die hospitaal.

Ihms sê met die uitsondering van ’n jong vrou in haar twintigs, bestaan dié Duitse toergroep uit middeljarige mense.

Die jong vrou, wat net lig beseer is, het haar ouma op die toer vergesel, en dit is sy wat ’n deel van haar linkerarm verloor het, vertel Ihms.

“Haar arm is onder die elmboog af, maar sy is by haar bewussyn en stabiel.”

Republikein het vroeër verkeerdelik berig ’n man het sy arm verloor.

Ihms het gister groot lof gehad vir E-Med Rescue 24 en die privaat hospitaal op Rundu se flinke diens.

Intussen het Kleingunther, wat ook ’n erge armbesering het, op haar Facebook-blad skerp uitgevaar teen mense wat ná die ongeluk “nare opmerkings” oor die bestuurder van dié toerbus van Sunshine Tours gemaak het.

“Josua, die bestuurder, word deur almal gerespekteer en ek sal al die pad by hom staan. Hy bestuur altyd baie versigtig en hou altyd by die spoedperk.”

Sy sê verder die voertuig waarteen die bus gebots het, “het reguit op hulle afgepeil, asof dit deur ’n magneet aangetrek was”.

’n Zimbabwiese man (63) was agter die stuur van die swart stasiewa wat 130 km oos van Rundu in die bus vasgery het. Hy is erg beseer. Sy seun (41) was saam met hom in die voertuig.

Ihms sê sy het intussen na ’n video-opname gekyk wat vertroulik is aangesien dit deel van die ondersoek uitmaak.

Sy sê ATC Namibia bied in die piekseisoen tot soveel as 50 toere per maand met Sunshine Tours-busse aan, “wat ’n veilige diens van hoogstaande gehalte lewer”.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi van die polisie sê die naam van die oorledene kan nog nie deur die polisie bekend gemaak word nie, aangesien al haar naasbestaandes nog nie van haar dood in kennis gestel is nie.

Sunshine Tours het sedert die skooltoerongeluk van Windhoek Gimnasium op 25 Augustus, nog nie reageer op Republikein se skriftelike navrae nie.

Al wat mnr. Stephan Erasmus van Sunshine Tours se kantoor by Otjibamba buite Otjiwarongo gister by navraag bereid was om te sê, was “’n nuusverklaring sal uitgereik word”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!