Beskuldigde in moord op tiener vra borgtog
Beskuldigde in moord op tiener vra borgtog

Beskuldigde in moord op tiener vra borgtog

'n Man wat van die moord en verkragting van 'n 13-jarige meisie aangekla word, het Woensdag in die hof verskyn.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Die borgtogaansoek van die 28-jarige mnr. Jandre Jacques de Klerk, wat daarvan beskuldig word dat hy 'n tienermeisie wreed verkrag en vermoor het, is gister in Windhoek se hoërhof voor regter Christie Liebenberg aangehoor.

De Klerk het na bewering gedurende die nag van 3 tot 4 Mei 2014 'n 13-jarige meisie in die Omdel-woonbuurt in Hentiesbaai verkrag en vermoor.

Hy staan tereg op 'n klag van moord, twee klagte van verkragting en 'n klag van huisbraak met die doel om te verkrag. Die eerste klag van verkragting hou verband met 'n voorval waar die beskuldigde op 15 Junie 2013 glo by 'n huis in die Goas-nedersetting in Omdel in Hentiesbaai ingebreek het en die klaagster, wat geslaap het, oorval en verkrag het.

Terwyl De Klerk op borgtog uit was vir dié klag het hy na bewering in Mei 2014 die tienermeisie verkrag, gesodomiseer en vermoor.

Die nadoodse ondersoek het getoon die meisie is verwurg en het weens versmoring gesterf.

Nadat die slagoffer reeds dood was, het die beskuldigde glo haar nek gebreek.

Die ondersoekbeampte in die saak, adjudant-offisier Paula Havenga, het gister getuienis gelewer.

Sy het genoem dat sy die eerste polisiebeampte op die toneel was en dat dit 'n grusame moordtoneel was.

Nadat twee verdagtes se DNA in verband met die saak negatief getoets het, het 'n oproep van 'n lid van die publiek vir Havenga op De Klerk se spoor gebring.

Die inbeller het glo gesê: “Julle moet op jul voorstoep kyk.”

Volgens Havenga is die aangehoudenes na aanleiding van hierdie inligting ondervra, en nadat DNA-monsters van De Klerk ontleed is, is gevind sy DNA-profiel stem ooreen met die DNA-monsters wat by die moord­toneel geneem is.

Havenga het aan die hof gesê sy staan borgtog teen. Sy dink De Klerk sal vlug omdat hy familie in Suid-Afrika het.

Sy is ook van mening dat dit weens die erns van die klagte teen hom nie in die publiek se belang is dat hy op borgtog vrygelaat word nie.

“Jy kan nie 'n persoon met sy rekord in die samelewing toelaat nie,” het sy gesê.

Havenga het voorts getuig dat 'n vorige meisie, die moeder van De Klerk se kind, vir ses maande in 'n veilige hawe vir mishandelde vroue moes skuil omdat sy De Klerk gevrees het.

In dié tyd het hy glo deur vriende na haar verneem en ook teksboodskappe aan haar gestuur.

Die borgtogaansoek duur vandag voort.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!