Besoedeling van akwifer ondersoek
Besoedeling van akwifer ondersoek

Besoedeling van akwifer ondersoek

Die minister verantwoordelik vir waterbronne, benadruk mynbou en die bewaring van die Stamp­riet-akwifer is onversoenbaar.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – 'n Ondersoek gaan gedoen word om vas te stel of die water­bronne in die Stamp­riet artesiese kom weens mynbou-aktiwiteite reeds deur uraan en ander radio­aktiewe en skadelike metale ­besoedel is.

Dit volg nadat 'n ondersoek deur kundiges na die booraktiwiteite van Headspring Investments naby Leo­nardville, getoon het dit het nie geskied in ooreenstemming met die voorwaardes waaronder twee boorpermitte op 30 Maart vanjaar vir ­eksplorasie- en geohidrologiese doeleindes aan dié mynboumaatskappy uitgereik is nie.

Dit blyk hulle het nie net die voorwaardes verbreek nie, maar ook meer as 77 bykomende gate geboor waarvoor hulle nie permitte gehad het nie.

Die twee bootpermitte is gevolglik op 9 November met onmiddellike effek deur die ministerie van landbou, water en grondhervorming gekanselleer.

Die formasie waarvolgens die gate geboor is, het ook vrese laat ontstaan dat uraan reeds uit ertsneerslae binne-­in dié waterbron ontgin is.

Dit is omdat die formasie ooreenstem met hoe gate geboor moet word vir die spesifieke logingsproses wat vir hierdie tipe mynbou nodig is.

Dit kan beteken uraan en ander skade­like stowwe kon die ­waterbron besoedel het, meen die Komitee vir Uraanmynbou in die Stampriet-­akwifer (SAUMC).

Die komitee se voorsitter, mnr. Divan Opperman, het vroeër die week in 'n verklaring gesê uraanbesoedeling en radioaktiewe ­uitstraling kan nie deur sig, reuk of smaak waar­geneem word nie.

“Rehabilitasie en regstellende prosesse in ander lande het dekades geduur om af te handel, teen astronomiese koste vir die onderskeie ­regerings,” sê hy.

Landbouminister Calle Schlettwein, wat ook verantwoordelik is vir die volhoubare bestuur van waterbronne in die land, sê nou dat kundiges bevind het Headspring Investments het die permitvoorwaardes verbreek, gaan 'n tweede ondersoek gedoen word om vas te stel of die akwifer reeds ­besoedel is.

Die Stampriet artesiese kom strek tot in Botswana en Suid-Afrika en die akwifers in dié kom bevat ­drinkwater van 'n hoë gehalte. Dit is die enigste waterbron van inwoners van dié deel van die Kalahari en onderhou nie net dorpe nie, maar ook alle landbou-­aktiwiteite, het Schlettwein gister opnuut benadruk.

Hy het reageer op vrae oor of Headspring Investments weer vir boorpermitte kan aansoek doen, en gesê die ministerie se oogmerk is om geen mynbou in die toekoms in die Stamp­riet-akwifer toe te laat nie.

Dié mynmaatskappy is 'n filiaal van die Russiese kernkragkorporasie, Rosatom, wat reeds in 2011 eksklusiewe eksplorasielisensies (EPL's) bekom het om naby Leonardville na uraan te soek.

Volgens SAUMC is meer as 30 eksplorasielisensies deur verskillende partye oor 'n gebied van 2,7 miljoen hektaar geregistreer met die doel om in die Stampriet artesiese kom vir uraan te prospekteer. Dit strek oor 'n gebied wat 50 km wyd en 500 km lank is, het me. Tanja Dahl, ook van SAUMC, verduidelik.

Schlettwein sê hy het reeds informele gesprekke met die minister van myne en energie, mnr. Tom ­Alweendo, oor die kwessie gehad. Dit sal deur formele gesprekke opgevolg word, sê hy.

“Ons eerste prioriteit is om die ­waterbron te beskerm. Dié prioriteit en mynbou sluit mekaar uit.”

Hy het bygevoeg dit wat die Russe tot dusver daar gedoen het, “grens aan kriminaliteit”.

“Hulle versteur en verkrag 'n uiters kosbare waterbron,” sê Schlettwein.

Intussen het mnr. Aldo Hengari, senior administrateur van Headspring Investments, gister gesê hy verkies om nie vrae telefonies te beantwoord oor hoe die mynmaatskappy die pad ­vorentoe sien nie, maar wil in persoon vergader.

Hy het onderneem om toestemming te bekom vir só 'n onderhoud met Republikein.
[email protected]

FOTO
Landbouprojekte by Stampriet is afhanklik van die artesiese waterbron vir besproeiing. Foto Yochanaan Coetzee

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!