Beste effektetrusts van 2016
Beste effektetrusts van 2016

Beste effektetrusts van 2016

Estelle de Bruyn
Nellie Brand-Jonker - Die fonds wat die afgelope jaar die beste prestasie gelewer het vir gewone beleggers is die Coronation Resources Fund.

Inligting wat deur die fondsnavorser Morningstar verskaf is toon dié fonds het 'n opbrengs van 63,3% gelewer van die begin van die jaar tot einde Desember.

Die fonds se maatstaf is die indeks van hulpbronaandele, wat ook die beste prestasie op die JSE die afgelope jaar opgelewer het.

Die fonds wat die tweede beste prestasie gelewer het, is die Investec Value Fund, wat 'n opbrengs van 60,5% van die begin van die jaar tot einde Desember gelewer het. Dit is vergeleke met sy maatstaf, die indeks van alle aandele, wat oor dié tydperk 'n totale opbrengs van slegs 2,7% gelewer het.

Die fonds met die derde beste prestasie is die RECM Equity Fund, wat 'n opbrengs van 42,7% gelewer het van die begin van die jaar tot einde Desember, volgens Morningstar.



Mynmaatskappye

Die Coronation Resources Fund word deur Henk Groenewald en Nicholas Stein bestuur en is al in Oktober 1999 bekendgestel.

Die fonds se jongste feiteblad toon einde September is 84,9% in plaaslike aandele belê. Sy top-10-beleggings is Anglo American, Mondi, BHP Billiton, Exxaro Resources, Sasol, Northam Platinum, Impala Platinum, Pan African Resources, Glencore Xstrata en South32. Die maatskappye se aandeelpryse het skerp gestyg.

Groenewald en Stein sê die positiewe vertoning van die hulpbronsektor het voortgeduur.

In die derde kwartaal het die fonds voordeel getrek uit sy oorgewig posisie in South32 en Exxaro. Dit beteken hulle het meer in dié aandele belê as wat die maatskappye se gewigte op die indeks is.

Sy oorgewig in Sasol en goudaandele het ook gehelp. Dit volg ná 2015 wat hulle beskryf het as 'n aaklige jaar vir beleggers in hulpbronne. Die hulpbronindeks het in 2015 met 37% gedaal, wat Groenewald en Stein as die slegste prestasie in ten minste 50 jaar vir 'n kalenderjaar beskryf het.

Die hulpbronsektor het in 2015 vir die sesde agtereenvolgende jaar swakker as die indeks van alle aandele gevaar.



Waardefondse

Die Investec Value Fund word deur John Biccard bestuur. Die fonds is grootliks in hulpbronaandele belê.

'n Waardefonds maak van 'n strategie gebruik om in aandele te belê wat ondergewaardeer is en swakker as die res van die mark vaar.

Ook die RECM Equity Fund, wat deur Piet Viljoen, Wilhelm Hertzog en Paul Whitburn bestuur word, kies aandele gegrond op hul waarde.

Talle van die fondse wat 'n sterk prestasie in die afgelope jaar gelewer het, is waardefondse.

Biccard het in sy kommentaar vir die derde kwartaal gesê die Investec Value Fund se sterk prestasie het verseker dat al die onderprestasie van die vorige vier jaar uitgewis is.

Van die positiewe bydraes wat in die derde kwartaal gehelp het, is oorgewig posisies in AECI, Impala Platinum en Imperial. Oorgewig beteken die persentasie van die aandele wat gehou word, is hoër as sy relatiewe markwaarde.

Ook die verswakking in aandele wat die fonds nié hou nie, soos Brait, Mediclinic en Mr Price het sy beter prestasie relatief tot sy maatstaf verseker.



Lang wag

Biccard sê hulle het byna twee jaar gewag vir die posisies wat geneem is om tot vrug te kom. Nadat twee groot goudaandele (AngloGold Ashanti en Gold Fields) amper hul pryse verdriedubbel het sedert die begin van die jaar, het hulle die helfte van hul belange verkoop en in banke en ander middelslagmaatskappye belê.

“Ná vier jaar van onderprestasie is ons geduld uiteindelik in 2016 beloon,” sê Biccard. Hy is steeds positief oor die goudprys, maar nadat goudmynaandele voor die styging van die goudprys uitgehardloop het, is van die aandele verkoop. Hy sê die portefeulje is nou amper die meeste gediversifiseer in drie jaar. -Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!