Betogers in Zim gearresteer
Betogers in Zim gearresteer

Betogers in Zim gearresteer

Koalisie eis wysigings
Estelle de Bruyn
Die Mugabe-regime het na wat berig word die afgelope naweek dosyne aktiviste en betogers in verskillende stede en dorpe gearresteer in reaksie op nog betogings­ ten gunste van veranderings aan Zimbab­we se verkiesingsbeleid.
Die betogings is deur die Tajamuka-­drukgroep (Ons is Ontsteld) gekoör­dineer.
Die groep beweer minstens 87 mense is deur die regering gearresteer, maar die getal kon nog nie onafhanklik bevestig word nie.
Die arrestasies volg ’n dag nadat die polisie ’n omstrede verbod op betogings­ in die middestad van Harare aangekondig het.
Zimbabwe Lawyers for Human Rights het die stap in ’n verklaring as ’n “vars aanval op burgerlikes” bestempel en sê betogers is ook in Gwanda, Zvishavane, Mutare, Kadoma en die Waterfalls-buurt in Harare gearresteer.
Opposisiepartye beweer dat die polisie sommige betogers – insluitende­ Farai Munengami, LP vir Harare se Glen View-woonbuurt – erg aangerand en beseer het.
Nelson Chamisa, adjunkpresident vir Morgan Tshvangirai se opposisie Movement for Democratic Change, het in ’n twiet beweer die polisie het Munengami Saterdag “aangekeer en sleg aangerand”.
Volgens Chamisa is Munengami se “gesig en lyf erg geswel” en was die aanranding van so ’n ernstige aard dat hy “nie eens kan sit nie”.
Minstens drie ander LP’s is ook gearresteer omdat hulle bevele veront­agsaam het om nie met ’n beroep op veranderinge aan die land se beleid voor die 2018-verkiesing voort te gaan nie.
Luidens berigte uit die verarmde suidelike Afrika-staat weier ower­hede nou om nuwe kiesers te re­gistreer omdat hulle sê dat daar bloot nie geld is om dit te doen nie.
Die opposisie sê hulle glo pres. Robert Mugabe (92) en sy regerende Zanu-PF-party het alle verkiesings sedert 2000 gesteel en hulle vrees dieselfde ding gaan in 2018 gebeur.
Volgens Zimbabwe Lawyers for Human Rights is 16 aktiviste wat in Gwanda in die suide van Zimbabwe gearresteer is, weer vinnig vrygelaat sonder dat enige klagte teen hulle aanhangig gemaak is.
Saterdag se protesaksie was op klein skaal gehou omdat betogers arrestasie­ of selfs ontvoering vrees.
Foto’s wat verlede week opgeduik het van die beweerde marteling van Sylvanos Mudzvova, ’n aktivis wat in Tajamuka gearresteer is, sou ook nog in moontlike betogers se ­agterkop ­afgespeel het.
Past. Evan Mawarire, stigter van die #ThisFlag-beweging in April, het intussen ook uit Zimbabwe gevlug.
Mawarire sowel as Patson Dzamara, nog ’n Zimbabwiese aktivis, het Sater­dag in New York deelgeneem aan ’n afsonderlike betoging namens Dzamara se vermiste broer, die aktivis Itai Szamara.
Joice Mujuru, die leier van die Zimbabwe People First-beweging, was ook nie Saterdag in Zimbabwe nie.
Psychology Maziwisa, Zanu-PF- woordvoerder, het na aanleiding van die naweek se arrestasies op Twitter aangekondig hy is bly om te rapporteer dat die geskeduleerde betogings deur #NERA, #ThisFlag en #Tajamuka in Zimbabwe en oorsee ’n “reuse­mislukking” was.
’n Groep ontevrede Zanu-PF jeugdiges het intussen volgensNewsDay gedreig om Woensdag deel te neem aan ’n anti-Mugabe-betoging wat deur die MDC-opposisieparty gereël wil word.
Hulle is glo ongelukkig oor die manier waarop Saviour Kasukuwere,­ minister van plaaslike regering, ’n behuisingsgeskil by die Ushewokunze-­behuisingskoöperatief in Harare hanteer het en sê hulle het genoeg gehad van “korrupte Zanu-PF-­leiers”.
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!